In die verre Cambridge, Massachusetts, VSA, ‘n klipgooi van die karaktervolle Harvard-kampus, word die naweek ‘n fees gevier wat by ‘n hand vol SA joernaliste heerlike herinneringe na vore sal bring. Hulle is die klompie wat bevoorreg was om ‘n sabbatsjaar as Nieman Fellows by Harvard deur te bring.Die fees is om die 85-jarige bestaan te vier van die Nieman Foundation for Journalists, ‘n stigting met die edel doel om joernaliste so halfpad in hul loopbane in die kans te gee om van spertye te vergeet en ‘n jaar in ‘n akademiese omgewing te kom rustig raak. Tot enkele jare gelede was ‘n Suid-Afrikaner gereeld een van die klas.
My geleentheid om Nieman Fellow te wees – ‘n joernalis se geleentheid van ‘n leeftyd in my oë – was in 1976/77. As ek die naweek se reünie kon bywoon, sou ek dus een van die veterane daar gewees het. Amerika is egter nie agter die bult nie en die dollar is duur. Dan is daar natuurlik die eindstryd in Parys. In Cambridge is nie DSTV nie.
Ek vier nou maar my eie klein reünie met ‘n herbesoek aan die dosynstuks foto-albums van daardie jaar. Foto’s van die skilderagtige Harvard-kampus, Cambridge se kleurryke Harvard Square, die Charlesrivier, my dapper Corona Merk II-stasiewa, sneeuwit Amerikaanse winters en bowenal, die sosiale verkeer met klasmaats het, helaas, die verlange na die verre alma mater en die lus vir die reünie net des te meer aangewakker.
“There is only one Harvard Yard in the whole world,” verklaar Barbara Westman in haar sketsboek The Beard and the Braid. Daarmee stem ek van harte saam. Seker ook al die ander Nieman Fellows nog in lewe, onder wie Naspers-kollegas Ton Vosloo, Tim du Plessis en Johanna van Eeden, asook Harald Pakendorff en Dries van Heerden van Perskor.
‘n Nieman-soewenier waaraan ek waarde heg, hang aan ‘n gedenkmuur in my studeerkamer. Dit is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Foundation se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap ewe ondeund aan die ander: “Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.”
By my gelukwense aan die huidige kurator van die stigting, Annmarie Lipinski, sluit ek ‘n afdruk van die skets deur ene Marlette, ‘n Nieman Fellow van 1984, in met die woorde: “It as a sentiment I understand and can easily identify with.”
Natuurlik is dit net by wyse van spreke. Maar dat dit ‘n weergalose jaar was. Is gedoriewaar.