Met die dood van Michail Gorbatsjof kan ek gerus maar die storie vertel van my ”onderhoud” met hom.My kollega Willem Wepener van Beeld se onderhoud met Margaret Thatcher in Londen – Ysterman en Ystervrou! – het die prikkel verskaf. Ek klop toe n vroeg in die 90’s by Piet Koornhof, ambassadeur in Washington, aan om die diplomatieke spitwerk te doen om my by die Sowjet-leier uit te bring.
Onthou, dit was nog die ou dae van van die “regime” in Pretoria en die “Ystergordyn”. Wit Suid-Afrikaners – Afrikaner-Nasionaliste! – was in die Sowjet so onwelkom soos ‘n polisieklopjag om middernag.
Op sy aanbeveling “werf” ek ‘n uitnodiging by die Sowjet-nuusagentskap Novosti, wat dadelik gretig is vir so ‘n nadere kennismaking. Novosti bevel aan dat ek my vir die doel in Londen by ‘n Britse toergeselskap aansluit.
Met Naspers se seën en op sy beursie vlieg ek na Londen, nog sonder ‘n visum. Daaroor sweet ek ‘n dag of twee. Uiteindelik kry ek die boodskap op die telefoon van ons Londense kantoor: kom haal hom.
Die middag van 11 Augustus vat ons Londense man Thinus Prinsloo – ook ‘n Vrystater – my na Gatwick. Ek ontmoet die toergroep en ons bestyg ‘n afgeleefde Toepolef van die Russiese lugdiens Aeroflot (vlug SU 1636) na Moskou, waar ons teen middernag neerstryk.
Ek is laaste in die tou by die doeane-mense, en my groen Suid-Afrikaanse paspoort wek argwaan. ‘n Gewapende wag stap nader. My hart wil bollemakiesie slaan, maar ná ’n gesprek waarvan ek niks verstaan nie, besluit die twee die dokumente is in orde. Die stempel word op ‘n skoon blad geplak, en ek draf vir die bus wat ons Moskou toe skommel. (Die bagasie het ure later op ‘n oop vragmotor gekom – ander storie.)
Die oggend van 12 Augustus is Moskou grou en die spelonkagtige Hotel Kosmos nie die toonbeeld van hulpvaardigheid en gasvryheid nie. Waar kry ek ontbyt, vra ek die besnorde tante agter die toonbank. Sy wys na ‘n ry muntmasjiene in die voorportaal. Met groot gesukkel skaf ek darem later ‘n swart koffie en ‘n broodjie aan.
Op daardie onheuglike oomblik stap ‘n man nader – die eerste glimlag wat ek sien sedert ons aangekom het, en boonop met ‘n uigtstrekte hand. Sy naam is Igor Vosnesenski van die Afrika-afdeling van Novosti. Hy word my gids en gasheer vir die twee dae in Moskou, en ons knoop stewige bande aan.
Maar ‘n onderhoud met Gorbatsjof? Nee, daarvan weet hy niks. Op sy program is ‘n besoek aan die Slava-rugbyklub, die Rooi plein, die Kremlin, die staatsirkus by Gorkipark en sy eenslaapkamerhuis in ‘n eentonige woonstelbuurt waar sy vrou, Anna, vir ons ‘n middagetetjie berei (koolsop en koolfrikkadelle in die kombuisie op ‘n piepklein tafel met ‘n geruite tafeldoek).
Ek kon my teleurstelling nie wegsteek nie. Hier kom ek die hele pad van Bloemfontein af vir ‘n joernalistieke triomf en eindig ek met ‘n besigtigingstoer!
Igor bemerk my verslaenheid en belowe sy kantoor sal kyk wat hy vir die volgende dag kan reël. Bra bek-af klim ek in sy bejaarde Volga sonder ruitveërs – hulle sit jy net aan as dit reën, anders raak dit gesteel – vir my bekendstelling aan Moskou, wat toe ondanks my teleurstelling heel interessant raak.
Volgende dag daag Igor met ‘n nog breër glimlag by die Kosmos op. Hy het vir my ‘n verrasing. ‘n Onderhoud? Ja. Nou wel nie met Gorbatsjof nie, jammer, maar tog met ‘n baie belangrike man.
Ai tog. Hy vat my toe na die burgersentrum. Moskou se burgemeester sal graag die joernalis uit die verre Suid-Afrika ontmoet. Maar wat ‘n verwaande mannetjie. Al wat hy wil doen, is my oor die sondes van “Pretorja” kapittel. Uiteindelik word geen woord van daardie “onderhoud” geskryf nie.
Die weeklange besoek het ook Kiëv, Odessa en Leningrad ingesluit, en het nogal heelwat opgelewer: ‘n reeks artikels in Naspers se dagblaaie en twee dik persoonlike foto-albums. Van Gorbatsjof was daar egter niks meer nie as die kritiek van ‘n klomp jonges wat bra keelvol vir die kommunisme was. “Gorbi must go” was hul slagspreuk.