02c74b69-f34d-4422-b646-25f67cb73625

More uit Melkbos

‘n Melktert wat ‘n wereldrekord kan wees, is op Wellington gebak, lees ek vanoggend in Die Burger: sowat 200 liter melk, 3m in deursnee. Op Coligny is ‘n kameelperd gebraai: 10 ton hout en 80 liter marinade.

Herinner my weer aan die vrugtekoek van Die Volksblad-Kunsmark in Bloemfontein op sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 – amper 30 jare gelede. Op die foto word Mariette Brummer (4) en Elindi van Rensburg (5) verdwerg deur ‘n berg Kunsmark-koek. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout.nie). Hier is die volledige resep:

70 kg koekmengsel / 30 kg meelblom / 15 kg suiker / 60 dosyn eiers / 15 bottels brandewyn / 18 kilogram botter / 15 kilogram kersies /9 kilogram neute

Die jare 80 was vir die Kunsmark ‘n goue dekade en sy vyfde verjaardag was ‘n feestelike dag in Koningspark, daar neffens die Vrystaat-stadion. Gade Tokkie was destyds die organiseerder. Sy en haar helpers het 5 000 porsies koek uitgedeel.

(Elindi, die enetjie met die vlegsels regs op die foto) is, terloops, ver gevorder met haar doktorale studies op Stellenbosch.) (hvd)

Deel dit: