Tokkie is ‘n afkorting vir Tokkelossie: my vrou se vroeggestorwe pa, Kotie, se naam vir haar omdat sy so ‘n klein kortetjie was dat sy onder ‘n bed sou kon deurstap – of nou dit op bakstene staangemaak is of nie.
Vir my is dit nogal ‘n oulike naam, amper 60 jaar al. Dié dat ‘n Nederlander my wind uit my seile vat toe hy met Rotterdamse brutaalheid vir my sê: In Nederland is dit ‘n naam wat niemand wil hê nie.
Ek kon net skaapagtig glimlag. Navrae by ‘n Nederlandse vriendin werp lig op die aweregse opmerking. As jy in Nederlands ‘n Tokkie / tokkie genoem word, is dit geen kompliment nie, lig sy my in. Trouens, jy is ‘n taamlike “gaggamens”. Sy stuur ewe hulpvaardig insiggewende leesstof oor die onderwerp.
Daaruit blyk dat die woord Tokkie / tokkie vir ‘n jafel, ghwar, lunsriem, gomtor, plotrot, bokslagter of wat ook al jy so ‘n onplesierige karakter in Afrikaans wil noem, van die Nederlandse van (“achternaam”) Tokkie afgelei is. Die negatiewe konnotasie het sy oorsprong in 2004 in ‘n sogenaamde werklikheidsprogram op Nederlandse TV met die titel Familietrots.
‘n Amsterdamse gesin met die van Ruijmgaart-Tokkie (bekend as die Tokkies) tree in die program na vore as die onaangenaamste van onaangename bure of EPH’s: “Extreem Problematische Huurders”; mense wat so ‘n oorlas van hulleself maak dat niemand kans sien om langs hulle te woon nie.
Van die ongure TV-gesin heet in werklikheid slegs die moeder, Hanna, Tokkie. Die ander bloedverwante gebruik pa Gerrie se van Ruijmgaart. Maar – snood onregverdig of nie – is dit die moeder se van wat die gelag moet betaal.
Deur die doen en late van die Ruijmgaarts op die skerm word Tokkie/ tokkie ‘n sinonieme selfstandige naamwoord vir anti-sosiale gedrag. (Die Engelse woord hooligan het glo voorheen dieselfde pad van onskuldige van tot ‘n beledigende stukkie skeldtaal geloop, maar dit net terloops.)
In Nederland beur die onvleiende gebruik van Tokkie / tokkie mettertyd vir hom ‘n pad as gangbare begrip oop nie net tot in die algemene spreektaal nie, maar later tot in die gesaghebbende woordeboek Van Dale en in 2016 tot in die woordeskat van die destydse premier Mark Rutte. Albei laasgenoemde ontwikkelinge maak, soos verwag kon word, opslae.
In 2019 eis die veronregte Ruijmgaart-Tokkies van Van Dale Uitgevers 50 000 euros vir die besmetting van hul trotse familienaam. Wat van die eis geword het, weet ek ongelukkig nie. Die internetspoor loop dood.
Die Mark Rutte-geskiedenis is wel deeglik opgeteken. Die premier word deur ‘n amateurhistorikus Lion Tokkie (onverwant aan Hanna) voor die bors gegryp nadat hy die begrip meermale gebruik om mense wat rassistiese beledigings rondgeslinger het, te veroordeel.
Hy voel ernstig gekwets en diep beswaard, skryf Lion Tokkie aan Rutte, en sy kritiek val nie op dowe ore nie.
“Laat ik vooropstellen dat ik uw gevoelens heel goed begrijp. Het is gewoon niet leuk of prettig als je achternaam in een negatieve context wordt gebruikt,“ antwoord die premier boetvaardig. “Het is absoluut niet mijn bedoeling u verdriet te doen. Ik zal uw achternaam niet meer gebruiken als typering voor mensen die in mijn ogen geen positieve bijdrage aan de samenleving leveren.”
Lion Tokkie was verheug oor die reaksie. “Hij zegt impliciet dat hij spijt heeft. Excuses hoef ik niet te hebben, ik vraag vooral begrip. Niemand realiseert zich dat er een familie achter de term ‘tokkie’ zit. Ik was als de dood dat het als oneliner in de campagne voor de verkiezingen gebruikt zou gaan worden.”
Dit sal seker niemand verbaas nie dat die uwe se simpatie in onderhawige saak vierkant by de Ruijmgaarts en Lion Tokkie is. ‘n Tokkie / tokkie kan mos nooit iets sleg wees nie, buiten dalk in die oorspronklike inheemse vorm van ‘n tokkelossie, daardie harige, kwaadwillige, kabouteragtige, skepseltjies wat met sangomas, of toordokters, geassosieer word en teen wie met soveel bakstene (of verfblikke) onder soveel Suid-Afrikaanse beddens beskerming gesoek word.