Op ‘n tyd het ek en Tokkie groot vreugde daaraan gehad om vir mense na aan ons eie geskepte CD’s vir Kersfees te skenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens.
Ons twee het die snitte saam uitgesoek. Die knap Hildegard Martin van Melkbos het vir die res gesorg. Van ons vriende luister nou nog en laat weet getrou hoe hulle die musiek geniet. In 2016 het ons die praktyk ná 10 jaar gestaak.
In daardie jaar het ons drie bakens bereik: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag. Die tema van ons laaste CD was om klaarblyklike redes: afskeid. Die titel was een woord: Dankie.
Nou het 10 jaar verloop. Tien jaar! Vanjaar, 2026, bereik ons weer drie bakens: my 85ste, Tokkie se 80ste, ons 60ste. Eerste van die drie breek sommer more al aan, die laaste is 363 dae ver.
In die dekade het dinge nie stilgestaan nie. Buiten die veroudering in eie geledere bied die aktiwiteite van die Byl onder vriende nogal stof tot nadenke. Van die 100 gaste wat in ‘n tent op ons gras op Melkbos 2016 se bakens gevier het, is 28 al oorlede: amper 30 persent. Van die 72 wat oorbly, is ver van gesond.
Al is ek self deur ‘n operasie of twee en al loop Tokkie nou met ‘n hart-pasaangeër, al beweeg ek ook al hoe moeisamer met my onontbeerlike kierie, het ons steeds rede om oorvloedig dankbaar te wees.
Op die vooraand van bereiking van more (3 Januarie) se eerste baken van die nuwe bakenjaar se drie betuig ek graag ons dankbaarheid vir vele seëninge in presies dieselde woorde as in die binneblad-teks van ons 2016-CD; ek voeg net telkens die woordjie “steeds” by:
Ons het (steeds) heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens.
Kosbare verbintenisse verryk (steeds) elke dag ons aardse bestaan.
Ons is (steeds) diep dankbaar vir milde genadegawes – totaal onverdiend.
Ons gemoedere is (steeds) gevul met vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndheid. Ons kyk (steeds) vorentoe in biddende afhanklikheid.
Op hierdie CD – die tiende en laaste uit ons stal – is ‘n seleksie hartsliedere. Ons strewe was om met woord en melodie ons wye spektrum van emosies te verklank.
Daarmee sê ons (steeds) vir een en almal: Dankie.
Deel dit: