En hierdie nooientjie? Ja, julle het al vergeet, ne!

Haar naam is Nancy …. Nancy Ames. ‘n Meisie met ‘n groot stem, wat deur haar sangleermeester beskryf is as “warm en sensueel – soos geel koring en ryp appels”.

Haar debuutalbum, The Incredible Nancy Ames, kom uit die dae van my jonkheid, circa die Goue Vyftigs. Dalk Sestigs. Op daardie album sing sy o.m. Cu Cu Rru Cu Cu Paloma dat jy wil uitstorm en die duifie gaan soek.

Nou waarheen is ou Hennie nou vandag op pad heen?

Ek wil julle net vinnig vertel van ‘n Kerspresentjie vir myself. Ek het ‘n klompie uitsoek-langspelers op CD laat sit.

Nou vul Nancy se “warm, sensuele stem” na jare se stilswye weer ons woonkamer. En regtig: dis soos “geel koring en ryp appels”.

Maar dis nie net Nancy Ames wat die hart laat warm klop nie. As huweliksgeskenk van Jan-Jakob de Jager het ek en Tokkie gekry die plaat Homage a Piaf. Boeta, luister maar as Piaf die sentimentele Jimmy Brown aanhef (Les Trois Cloches). En Milord – absoluut meesleurend.

Wonderlik soos die dinge werk, hoor ek nou die dag uit die bloute per e-pos van Jan-Jakob. Moet hom tog laat weet die “Mossie van Parys” het weer nuwe lewe in die Van Deventerwoning.

Gaan julle nie van al die plate vertel nie. Hier’s net ‘n voorsmakie van waarna ek en Tokkie nou saans luister:

Stille Nacht, gesing deur die Bielefelder Kinderchor op ‘n Kersplaat wat Lufthansa my present gegee het terwyl ek nuusredakteur van Die Volksblad was;

Komm herab, o Madonna Theresa – Joseph Schmidt;

Bella figlia dell” amore (kwartet uit Rigoletto) – Gigli, Galli-Curci, De Luca, Homer (wonderskoon!);

M’appari Tutti Amor – Jussi Bjoerling;

Capricio Italien – Munchen Philharmoniker.

Genoeg, genoeg. Maar dan het ons ook kompilasieplate wat komplikasie -CD’s geword het, soos 50 Great Moments of Opera en 30 Piano Masterpieces.

En ons het ‘n Clayderman wat Johan as ‘n klein seuntjie vir Tokkie gekoop het. Snitte soos Elvis se Love Me Tender, Speak To Me Of Love en Tristesse (So Deep Is The Night) is soos maroela- roomlikeur.

Groetnis

HvD

Deel dit: