Oom Koos se storie oor die glasoog, soos deur Alida Fourie oorvertel (HvD se vorige blog) noop die groepie waarderende Melkbossers die aand om die kampvuur om op meer vertellings uit dieselfde oord aan te dring.
Goed, willig Alida in – daar’s ook die storie van die eenvoudige outjie van doer in die ou Duitswes wat maar so ongeskool by sy pa en ma op die familieplaas grootgeword het. Later is die oumense dood, en hul enigste erfgenaam loop toe tog iewers in die distrik ‘n meisiekind op die lyf by wie hy kan gaan vlerksleep.
Die twee trou. Nie baie langer as nege maande later nie, is die swangerskap ver gevorder. Die aanstaande moeder roep haar eggenoot en se hy sal maar sy fiets moet vat en begin inry dorp toe, sy kan voel dinge is aan’t gebeur.
Hy trap dat die wiele gons in die gruis en die stof so staan. Uitasem kom hy by die vroedvrou aan en verwittig haar dat haar dienste op die plaas broodnodig begin raak.
“Jong, my ou karretjie is maar klein,†antwoord dié. “Ek het nou nie plek vir jou en jou fiets nie. Ek ry maar vooruit, dan kom jy so vinnig soos jy kan agterna.â€
Die verwagtende vader durf weer die lang pad aan plaas toe. Hy is net betyds om die vroedvrou by die voordeur te sien uitstap. Sy beduie hy moet naderstaan, en lig hom in dat komplikasies aan’t ontstaan is wat ‘n dokter noodsaaklik maak.
Die ou is half moedeloos, maar hoe nou gemaak? Hy spring weer op die saal en dwing sy bene om te trap en te trap.
Goed, hy kom dadelik sê die dokter. Hy moet net gou by die apteek stop en ‘n dingetjie of twee afhandel. “Ry jy maar solank. Ek kom.â€
Tyd vir rus is daar nie. Die mannetjie byt maar op sy tande en laat die speke weer sing. Halfpad plaas toe kom die dokter in n stofwolk verby, wat bruin op sy klere neersif. Maar hy bly trap of sy eie lewe daarvan afhang.
Vir die tweede keer daardie dag toe hy die opstal bereik, bemerk hy ‘n figuur in die voordeur. Hierdie keer is dit die dokter. “Jou vrou se water het nou net gebreek,†rapporteer hy die jongste nuus.
Die natgeswete fietstrapper deins verbouereerd terug. “Laat ek tog net ‘n bietjie asem skep,†pleit hy. “Seblief, dokter, keer net daai water so ‘n rukkie. Sodra my longe ophou fluit, sal ek jaag om die ‘plumber’ te gaan roep!â€
Groete uit Melkbos
HvD
