Geen Sherlock Holmes of Bennie Griessel word geverg om uit die leidrade op die foto’s af te lei dat die Van Deventers van Melkbos op ‘n uitstappie buite hul gewone milieu was nie. Vir die kortste pad na die antwoord op die vraag “waar” kyk stip na Tokkie se stoel. Dis in die vorm van ‘n eier ja, maar nie sommer ‘n gewone eier nie. Dis klaarblyklik ‘n volstruiseier.
Natuurlik dus Oudtshoorn. Die stoel is in die deftige nuwe inkoopsentrum Klein Karoo Markt neffens die Volstruis-Emporium. Sy Checkers is die mooiste winkel waarin ek nog my voete gesit het. Eerlik.
Dan is daar die foto van die uwe in ‘n ongewoon landelike toneel: die nadere kennismaking met kleinseun Migael van Deventer se kuddetjie Landrani meatmasters op seun Johan en skoondogter Mariza se plek aan die Grobbelaarrivier met die ietwat ambisieuse naam van “Ons Plasie” . (Maar daar is darem ook ganse en hoenders, granaat- en olyfbome en hawerkampe wat groen begin uitslaan.) Die vreemde wese met sy grys kapsel en kierie het duidelik die mooi skapies se belangstelling geprikkel.
Die flenterband op die derde foto is nie regtig Oudtshoorn-verwant nie, buiten dat die volstruisdorp se Tyremart en GH Towing saam met Johan – en ook die AA – in meerdere en mindere mate geskitter het om die noodsituasie vinnig te beredder nadat ‘n agterband naby Caltzdorp gebars het. Genoemde band het heelwat vinniger gedisintegreer het as wat ‘n sogenaamde “Run flat” volgens die bemarkers behoort te doen.
Ons is terug op Melkbos met herinneringe aan onder meer heerlike gebraaide galjoen, meatmaster-tjops (darem nie een van Migael se skapies nie), ribbetjie en filet op die Van Deventers se idilliese stoep. In my gedagtes is egter ook steeds die beeld van die mank X1 verlate op die gruisstrook langs die R62 en omflank deur Karoobossies .
Niemand sal my na dese ootuig dat dit ‘n briljante ingewing was om motors sonder noodwiele te vervaardig nie.
Naskrif: Nog ‘n herinnering is die duurste stukkie hake wat ek nog in enige restaurant voorgesit is – en ongelukkig nie die grootste, geurigste of lekkerste nie. Ek verswyg maar genadiglik daardie restaurant se naam, maar Oudtshoorn-inwoners sal seker kan raai. Gelukkig was die
geselskap aan die tafel in die prima-klas. Studentemaat Pierre le Roux en Esther het van Mosselbaai oorgery.
MARIZA berig oor die kuier soos volg:
Oupa Hennie en Ouma Tokkie het die week vir Migael kom kuier. Wat ń fees! Hulle het van Migael se verjaardagkoek (plegtig gevries sedert 31 Augustus) saam met hom geniet, die nuwe Klein Karoo Markt besoek en ons Landrani Meatmaster skape ontmoet. Ma Tokkie het vir ons 6 gaanse verduidelik wie’s baas, en Tokkie (ons haan en Ma se naamgenoot) het sonder ophou gekraai Tjoppie mis Ma Tokkie gladnie…sy het saans blatant op SY plek gesit
Deel dit: