'n Kloppie in die nag aan die deur van 'n allenloper se hotelkamer kan 'n verleentheid wees .... of 'n geleentheid! (Fred Mouton is die kunstenaar. Die skets kom uit HvD se Oos-Wes - Reismoles!)

'n Kloppie in die nag aan die deur van 'n allenloper se hotelkamer kan 'n verleentheid wees .... of 'n geleentheid! (Fred Mouton is die kunstenaar. Die skets kom uit HvD se Oos-Wes - Reismoles!)

Ver van jou goed na aan jou skade. So lui die spreekwoord. Ons sou die woord “goed: met “huis” kon substitueer en “skade” met “pernarie” of “verleentheid”. Ver van jou huis kan jy allerlei ongemaklike dinge oorkom. Ek het hier veral verblyf in ‘n hotel in gedagte.

Op TV is nou ‘n advertensie van ‘n ou wat so tuis is in ‘n City Lodge dat hy in sy onderbroekie gaan koffie soek – en hom boeglam skrik toe hy in ‘n vol eetkamer agterkom hy’s ver van sy eie huis en haard. ‘n Vriend – ongelukkig al oorlede sodat ek nie die presiese feite by hom kan kontroleer nie – het ‘n keer daarin geslaag om hom, eenders ontbloot, uit sy hotelkamer te sluit. Hy moes “vermom soos ‘n blompot” in die gang skuil totdat redding in die vorm van ‘n duplikaatsleutel opgedaag het.

Nog ‘n ongelukkie van ondoelbewuste ontbloting het ‘n Suid-Afrikaanse bruid op haar wittebroodsreis oorgekom. Sy is saam met haar man op ‘n sakebesoek na Quebec in Kanada. Daar by die sprokiesagtige Hotel Frontignac geniet die twee een middag ‘n paar kraffies yskoel wyntjies van ‘n edel kultivar.

Na die eerste kraffie had sy al die moed om gou kamer toe te draf en in haar nuwe Playboy-bikini te glip. Na nog ‘n kraffie of twee voel sy dapper genoeg om die trampolien aan te durf. O wee. Met ‘n waaghalsige wip, al gillende van plesier, spring ‘n huppelende linkerbors uit sy ietwat onvoldoende omhulsel. Sy gryp vervaard na die wapperende toutjie om die uitgeglipte ene te bedek. In die gryp, ruk sy die hele stukkie lap egter geheel van haar lyf.

Daar wip sy toe – of liewer hulle? – op en af, op en af. Die gille is nou nie meer van plesier nie, maar van roue skok, want ‘n hele skaretjie begin om die trampolien saamdrom vir die skouspel. Party mik haar kant toe met knewel-lense op hul kameras. Toe die bruidegom uiteindelik sy half-histeriese vrou met handdoeke toegewikkel kry en sy struikel-struikel die trampolien verlaat, was daar waarderende toejuiging – nie onverdiend nie, hoor!

‘n Pragtige Stellenbosse studentenooi kom in ‘n swetende Miami aan na ‘n uitputtende nagvlug. Sy bereik haar hotel eers ure later na ‘n uitmergelende busrit en ‘n laaste skof per taxi met ‘n ou wat klaarblyklik nie die plaaslike geografie onder die knie het nie. In die kamer wil sy net op die bed neerval en slaap. Maar dis warm, boeta. Uiteindelik voel sy eers salig gemaklik toe sy haar soos Marilyn Monroe daar uitstrek. Sy had nie eens die radio aan nie.

‘n Gevoel van onheil wek haar uit ‘n diepe sluimer, en wat sal sy gewaar? Voor die venster – dit op die dertiende verdieping – is twee vensterwassers grootoog aan die stoei vir die beste uitsig op die slapende skone. Vir ‘n oomblik was sy verstyf van skok, toe stroom die verwensings oor haar lippe, pluk sy die duvet met een haal van die bed af, gooi dit om haar skouers en verdwyn by die badkamerdeur in. Die twee ooryweriges het eenvoudig net aangehou ruite was op dieselfde plek. ‘n Mens weet nooit….

‘n Goeie vriend van die Rand was in die beroemde Waldorf Astoria in New York toe hy in die middel van die nag ontwaak weens ‘n kloppie aan die deur. Hy spring uit die bed en pluk die deur oop. Daar staan ‘n meisie en bied met ‘n uitlokkende glimlag en ‘n Amerikaanse aksent “room service” aan.

Vir ‘n oomblik het die drommel met die gedagte gespeel om ‘n hamburger te bestel. Toe dring dit deur dat haar klere – of die gebrek daaraan – nie op die gewone soort “room service” dui nie. Hy klap die deur vinnig toe. Maar toe is Klaas Vaksie saam met die geheimsinnige meisie by die deur vir die res van die nag uit sy lewe uit.

Die uwe had ‘n soortgelyke ervaring, maar minder eksoties in die sin dat dit sommer in die Capetonian Hotel naby die Kaapse hawe gebeur het, en die meisie – volgens my vriend se kwylende beskrywing – heelwat minder asemrowend was as daardie Amerikaanse entrepreneurtie.

Toe my blas besoekstertjie aankondig “I’m in the room right next door” , het ek egter dadelik besef dis nie om dowe neute of vir ‘n middernaghappie wat sy haar aanmeld nie – afhangende natuurlik van hoe ‘n mens ‘n middernaghappie in jou eie gedagtes definieer.

Soos my vriend, het ek liewer die “geleentheid” ferm van die hand gewys. “I’m sleeping,” het ek tussen dun lippe uitgepers. Eers later het dit my te binne geskiet dat ‘n verskriklike slaapdrang seker nie die oortuigendste rede is vir sy onwilligheid wat sy al uit die mond van ‘n aspirant-klant in ‘n middelklas hotel in ‘n vreemde stad moes aanhoor nie. (HvD)

Naskrif: Lees ” ‘n (Ont-)blote ongelukkie” in samehang met “Staaltjies van straaltjies” hieronder. Dis die tweede episode in ‘n reeks van drie oor verleenthede. Die derde volg so oor ‘n paar dae. Intussen is dr. Hertholdt Pauw egter in Bloemfontein oorlede en moes ek net myself onderbreek om eers die storie van “hef ‘n bedpan” in hierdie webjoernaal te vertel. Blaai vir “Staaltjies van straaltjies” net af, af tot by blog nommer drie. (HvD)

Deel dit: