Die foto van die vrolike, singende poppies hierbo het ek gaan uitgrawe uit een van my plus-minus 80 propvol foto-albums diep in ‘n kas. Die oorsprong is Oujaarsdag 1976 in Disneyworld, Florida.

Die Van Deventergesinnetjie het daardie dag grootoog deur Walt Disney se wonderdorp van pret, avontuur, sang, kleur, fantasie en verbeelding getou. Ons was onder meer op ‘n “bootvaart” deur ‘n grot met baie kamers. Die vaart se naam was It’s A Small World, en die uitnodiging aan besoekers was: “Join hundreds of singing, dancing international dolls on the happiest cruise that ever sailed”.

Van grot tot grot het die opgewekte liedjie It’s A Small World uit die kele van die poppies in hul volksdrag opgeklink terwyl die bootjies stadig hul weg deur die kronkelgange vind.

“Dis ‘n klein wereldjie.” Aan daardie boodskap herinner ek en jy/u mekaar telkens as ons iemand raakloop wat iemand ken wat ons ook ken. Veral in Suid-Afrika gebeur dit nie ongereeld nie – daardie “kleindorpsheid” van hul geboorteland is, trouens, een van sy eienskappe wat ontheemdes glo van die heel meeste mis.

Hoe klein die wereld is, het die sage van Mujati senior, die pa van die Springbok, Brian, wat Tienie Martins van die spogplaas Tiny by Inyazura, Zimbabwe, verdryf het, opnuut onderstreep. Toe die storie in Zimbabwe breek, stuur my studentemaat Piet Henning van Chiredzi dit dadelik vir my. Die leidraad is die van Martins, want saam met my en Piet in ons geliefde Kollegetehuis op Tukkies was twee Martins-broers uit die ou Rhodesie, Jannie en Kokkie.

Ek was dadelik nuuskierig waar pas Tienie die uithaler-losskakel in die groter Martins-prentjie in. Dadelik versprei ek toe ‘n e-pos onder Tukkiemaats en skryf ook ‘n briefie vir Die Burger om lesers se hulp te vra. Binne dae stroom uit alle oorde die mededeling in: Tienie is Jannie en Kokkie se jonger broer. Reaksies kom (heel eerste) van Pierre le Roux van Mosselbaai wat Tienie leer ken het toe hy in die 60’s terug Tukkies toe is om nagraads te gaan studeer, van Kokkie se skoonsuster, Karin Pretorius in Bloubergstrand, van Tienie se skakelmaat in Inyazura se rugbyspan en nog ‘n hele paar ander.

Dis ‘n klein ou wereldjie inderdaad. As jy begin krap – soos ons Boeremense graag gedoen het – kom jou gou op die interessantste konneksies af. Sal ek dan nie nou die dag verras agterkom ‘n jarelange kollega, Pierre van Manen, en ‘n Tukkiemaat, Willem van Niekerk, wat later predikant geword het, was saam aan die Oos-Rand in matriek nie. So kon bande tot wedersydse vreugde weer opgetel word.

Vanoggend lees ek in Die Burger regter John Hlophe wou dadelik by regter Bess Nkabinde weet: ” Watter Nkabinde is jy?” Overgesetsynde: “More, niggie, hoe voer jy die van … en van watter Nkabindes is jy?” Dis klaarblyklik ‘n “Boeregewoonte” wat ver paaie geloop het!

Hoe klein die wereld is, het ek onder meer ook een aand in Londen agtergekom toe ‘n huurmotor my kom oppik vir ‘n onderhoud by die BBC. “Minister?” wil die klein Engelsman agter die stuur van die Rover weet. “No, newspaper editor.” “Johannesburg?” “No, Bloemfontein in the small province Orange Free State.” “Oh,” kom dit toe dadelik: ” 1 Valskermbataljon!” Net so in Afrikaans.

Dit blyk toe hy is ‘n Zimbabwier wat in Bloemfontein valskermopleiding ondergaan het voordat hy sy vlerke Londen toe gesprei het.

Maar die wereld is darem ook nie altyd so klein nie. Oud-kollega Jean le Roux sien op ‘n dag iewers in Europa op ‘n stasie ‘n gesig wat bekend lyk. Die man betrag hom ook redelik intens. Hy stap nader. :Ek is van Suid-Afrika en jy?” “Ek ook.” ” Ek kom van Kaapstad.” “Ek ook.” “Ek werk by die Nasionale Pers.” “Ek ook”.

Dis toe altyd Jurgen Fomm, ‘n kollega by die uitgewers, en die twee ontdek hulle het nie te lank gelede nie by ‘n dinee van die Pers aan dieselfde tafel gesit!

Laat ‘n mens dink aan die ou grappie: “Maar hoekom praat ons dan Russies as albei Afrikaans is!” . Dis egter nou weer ‘n ander storie. (HvD)

Deel dit: