Die kapelaan van die Volksblad – so het ek in die jare 80 die wellewende leraar met die permanente glimlag, die flink humorsin en die mooi gemoduleerde stem gedoop.
Die foto van ds. Johan Lombaard is by my 50ste verjaardag by ons huis in Van Schoorstraat, Bloemfontein, geneem. In die glasies is …. water!
Ds. Johan Lombaard wat Donderdagnag in die geseënde ouderdom van 89 oorlede is, was ‘n man van wie jy dadelik gehou het. Hy het onmiddellik jou respek afgedwing. Hy was ‘n jare lange medewerker van Die Volksblad, eers as skrywer van Saterdag-hoofartikels en later na prof. Pieter Potgieter, moderator van die algemene sinode van die NG kerk, as skrywer van die oordenking, die Stille Uur.
Sy “kapelaan”-status het hy ook om ‘n ander rede verwerf,. Hy was vir hierdie redakteur ‘n altyd beskikbare bron van wysheid oor ingewikkelde eties-morele of kerkkwessies, en altyd gewillig om in huweliksintriges van jonger kollegas konstruktief in te gryp.
Dit was ‘n voorreg om hom en Estelle as vriende te kon reken en tradisioneel op 26 Desember, op haar verjaardag, onder die groot boom in hul tuin saam te kuier. Hy het die Van Deventers die spesiale guns gedoen om ons dogter, Marisa, en Brent Claassens by Oude Libertas in die Kaap in die huwelik kom bevestig, en ons Kaapse vriende kon nie uitgepraat raak oor die innemende dominee uit Bloemfontein nie.
Ds. Johan was moderator van die Vrystaatse sinode van die NG kerk. Na sy aftrede was hy, soos verskeie ander dominees, ‘n suksesvolle eiendomsagent.