Kyk, as daar nou ‘n doodernstige saak is, is dit ‘n begrafnis. Altans, so was dit in die jare van my jonkheid. Baie trane is gestort, snikke het deurentyd bo die somber orrelmusiek en treurige teem-sang uit die familiebank opgeklink. Dominee het strak sy boodskap gebring.
Deesdae is dit of ‘n element van onstigtelikheid soms wil inkruip. Veral huldeblyke is deurspek met humor, wat nie altyd ewe verfynd of subtiel is nie. Ook skyfievertonings oor die oorledene se aardse handel en wandel wek soms plesierige proeslaggies.
Herinneringe word in alle vorme opgediep, soos toe Oom Jan na ‘n lang en vrugbare lewe oorlede is. Bok van Blerk se De la Rey, De la Rey was in daardie stadium so plus-minus heelbo op sy ongekende golf van super-gewildheid. Oom Jan se swaer Gert lewer die huldeblyk en val weg: “My goeie ou swaer was mos mal oor De la Rey. Hy’t sommer saam begin sing en dans, veral as die lied op ‘n trekklavier uitgevoer word. Daarom vra ek nou nou ons ou vriend Sakkie om hier op die kansel te klim met sy pensklavier en De la Rey vir Oom Jan te speel en te sing soos net hy kan.”
Die arme leraar moes maar stram probeer glimlag. Maar moet ‘n predikant lag of moet hy huil as iemand sy huldeblyk so begin: “Koos, geagte vrinne, was mos ‘n opperste ou donner….”?
‘n Jong man sonder hare en met bo-arms soos koerantblaaie van al die tatoe’s het sy “ou toppie” in soortgelyke trant in herinnering geroep: “As sy moer gestrip het, het dit gestrip, hoor.”
Snaaks hoe dikwels dit juis seuns is wat aan hul afgestorwe vaders op so ‘n boerse wyse hul respekte betuig. Hier’s nog ‘n paar resente juweeltjies:
“Pa was darem lekker windgat met daai Honda Prelude van hom …”
” As daar iemand was wat Pa die bliksem in kon maak, was dit sy hardegat buurman …”
” Pa, die Stormers, het Saterdag darem weer gewen, Pa”, en dan vertroulik aan die begrafnisgangers: “Sjoe, Pa kon gatvol raak as die Stormers so sukkel.”
Een knaap het op die kansel geklim en vreeslik mooi vertel hoe ‘n saggeaarde man sy pa was. Hy het altyd vir sy kinders stories gelees. Sy pa het ‘n liefde vir die letterkunde by hulle ingedril en het nie gou kwaad geword nie. “Maar hy’t van niemand k-k gevat nie. ” Jy kon ‘n speld in die kerk hoor val.
Skyfievertonings kan soms baie openhartig en onthullend wees -die afgestorwene in vrolike stemming met sy Klippies en coke in die hand; die afgestorwene hand om die nek saam met sy pelle om ‘n braaivleisvuur met net bottels waar jy kyk; die afgestorwene op die rand van ‘n swembad waarin sy weduwee uitbundig plas met onbedekte torso … Gebruik maar die verbeelding.
My vriend Danie Krynauw (die vader van die gedagte dat hierdie blog die lig sien) onthou ‘n keer toe die kis voor die preekstoel op ‘n platform gesit is. Die begrafnisgangers het nie geweet dat die deksel ontbreek nie. Ook nie die dominee nie. Toe hy ‘n slag afkyk, is dit in die oorlede broeder se pofferige aangesig. Hy het van skok amper sy kunstande ingesluk!
Na die diens is die oop kis uitgetrollie binnehof toe. Een roubeklaer het gestaan met ‘n koffie koppie in die een hand en ‘n eierbroodjie in die ander. Toe hy omkyk en die lyk in die oop kis as’t ware onder vier oe sien, het die koppie kletterend die grond getref en die vorige broodjies wat verorber is, met een proes oor sy lippe teruggekom.
Selfs by die graf, in die hartverskeurende oomblikke van die laaste afskeid, duik onplegtige oomblikke op wat onuitwisbare indrukke laat.
Toe die kis begin sak op Reddersburg in die Vrystaat roep die weduwee met roue emosie: “Daar gaat hy!” Agterna kon niemand ongekwalifiseerd getuig dat dit nie dalk ‘n juigkreet van verligting was nie.
‘n Bejaarde ouma se hartsbegeerte was dat haar afgedwaalde kleinkind een van haar draers moet wees. Die ventjie word met groot moeite opgespoor. Hy daag op in die uitdagende drag van sy generasie en met ‘n getinte waaierkuif soos ‘n hamerkop. Hy help dra, Toe die ander blommetjies strooi, waai hy sy hand heen en weer met twee uitgestrekte vingers en se hard, sodat almal kan hoor: “Sight you, my Oumatjie.”
‘n Dominee vertel die oomblik toe hy langs die graf “amen” se, voel hy hoe die grond onder sy voete begin verkrummel. Die wal van die graf dreig om in te stort. Hy raap hom toe op en, met fladderende togapante, spring hy soos ‘n wafferse ribbok bo-oor die graf na terra firma.
By die tradisionele tee en toebroodjies na die tyd kom een van die familielede na hom, gee hom ‘n pluimpie oor die mooi begrafnis en vra dat hy presies net so begrawe wil word – met daardie simboliese triomfsprong oor die dood en al.
Simboliese triomfsprong oor die dood!?
Gelukkig, se die dominee, was sy mond vol kos, en was dit nie nodig om ‘n diplomatiese antwoord uit te dink nie! (HvD)
