
Bo is Tokkie by die oorkonde op sy ereplek op Melkbos. Onder word dit aan ons oorhandig op ‘n onthaal in die stadsaal in 1988. Links is ons en regs die Neuhoffs, Toeks en Neels.
‘n Swerwer het oplaas tuisgekom, en harte en hande staan vir hom oop. Die swerwer is nie ‘n mens nie, wel ‘n waardvolle dokument.
Ek praat van ‘n sierlike stadsamptlike oorkonde van die stad Bloemfontein aan “Die Volksblad” weens die waarde van die Kunsmark vir die stad in die jare 80.
Die geraamde oorkonde was in ‘n swerwer-fase sedert “Die Volksblad” (later net “Volksblad”) op 8 Augustus 2020 treurig as papierkoerant ophou bestaan het (later ook as aparte digitale produk). Om die een of ander rede is dit nie saam met ander memorabilia NALN toe waar ‘n waardige ”Volksbladkamer” sedertdien ingerig is nie.
Met die oog op Tokkie se 80ste verjaardag a.s. Sondag het die oorkonde sy weg uit Bloemfontein na Melkbosstrand gevind. My vrou was jare lank ‘n gewilde en bewame Mev. Kunsmark.
Waterskade en skade aan die raam is herstel en die oorkonde staan nou op ‘n ereplek in Penguin Place 11.
Die Kunsmark is in 1982 deur die uwe in Koningspark, Bloemfontein, begin. Elk eerste Saterdag van die maand het uitstallers van heinde en ver gekom, selfs oor landsgrense. Meer mense het dikwels daarheen gestroom as wat Saterdagmiddae gaan kyk het hoe Vrystaat oorkant die straat rugby speel. Gemeentes het orrels afbetaal en kerke geverf met eetgoed wat daar verkoop is.
Dalk die spesiaalste herinnering is die vrugtekoek waarmee die Kunsmark sy vyfde verjaardag op 2 Mei 1987 gevier het – amper 40 jare gelede. In daardie koek was 15 bottels brandewyn (geen tikfout nie). Hier is die volledige resep: 70 kg koekmengsel / 30 kg meelblom / 15 kg suiker / 60 dosyn eiers / 15 bottels brandewyn / 18 kilogram botter / 15 kilogram kersies /9 kilogram neuter.
Tokkie en haar helpers het daardie dag in spesiale mandjies 5 000 porsies koek uitgedeel.
Die stadsamptelike verering was die breinkind van burgemeester Neels Neuhoff. Saam met die oorkonde is ‘n serifikaat van verering op 23 Februarie 1988 aan my en Tokkie oorhandig. Ons bewaar dit ook soos goud.
Die oorkonde is ‘n kalligrafiese pragstuk. Dit is toegeken weens die ”merkwaardige suksesverhaal van die Kunsmark en uit waardering vir die Kunsmark se besonderer waarde vir Bloemfontein en sy inwoners.
“Die Kunsmark dra ‘n aangename beeld van die stad uit tot ver buite sy grense en bevestig weer eens die vrugbare bondgenootskap van dekades tussen die Vrystaatse hoofstad en ‘Die Volksblad’.”
As iemand dalk dink die oorkonde hoort nie op Melkbosstrand nie, hier is ‘n boodskap wat van Gert Coetzee, laaste redakteur van die koerant en as’t ware vader van die kamer by NALN, ontvang is: “Ek is bly dit het by julle uitgekom en vertrou dit graag aan julle toe, ook om te koester en te geniet.” Dankie, Gert.
By die amptelike ontvangs van die oorkonde spreek ek graag ook ‘n woordjie van waardering aan ander staatmaker-bouers aan die Kunsmark deur die jare soos Georjane Oberholzer, Marietjie Gericke, Henriëtte (Anderson) Loubser en Alet Coetzer.