Dertien jaar lank kon ek Melkbossers na die boekwinkel books.books.books in die Birkenhead-winkelsentrum verwys as hulle by my navraag doen oor ‘n boek. Vanoggend het ek Ben en Liza Meyer by hul winkel gaan groet. Kort nadat ek uit is, het die deur van die klein sieraad vir Melkbos finaal toegeklap.
Mense koop nie meer boeke nie, sê Liza gelate terwyl ‘n laaste handjievol klante die laaste handjievol winskoopboeke deurkyk. Maklik 90 persent van die rakke is toe al dolleeg. Hulle wag net om deur karweiers opgelaai te word.+Van die uwe se “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” is vanoggend ook ‘n laaste eksemplaar verkoop, word ek meegedeel. “En waar wend ek my nou heen?” Almal – ek, Liza en Ben – lag, maar dis nie ‘n vrolike laggie nie.
Die ingeligte, vriendelike en hulpvaardige diens wat Ben en Liza in hierdie intieme klein boekwinkel aan boekeliefhebbers van Melkbos – skrywers en lesers – gelewer het, was onskatbaar. Die gemeenskap ly ‘n onherstelbare verlies.
Ek blaai deur ou Facebook-inskrywings en foto’s. Dit strek terug tot 2012. In die eerste van die stapeltjie inskrywings lees ek: “In onse winkelsentrum Birkenhead op Melkbos bedryf Ben en Liza Meyer ‘n boekwinkel met die naam books.books.books. Van die uwe is “Duisend Dae langs die Sabie” op die rak – ook die vorige twee, ”Praat-praat in Tamatiestraat” en ”Byl in my bos”. Gaan loer gerus daar in as julle op Melkbos kom. Op die foto is ek en Liza en die drie HvD-boekies wat daar te koop is – spotgoedkoop!”
Daarna het gevolg my vier Nalediboeke, “Laatoes”, “Na verre hawens”, “Koerantkamerade” en ”Mooi nooi”. Ook my Protea-bosboek. ”Bure van nature”. En my private publikasie met my 80ste verjaardag, “Koerant”. Wat ‘n lang, vrugbare verbintenis.
Kan iemand my dan kwalik neem as ek sentimenteel oor die plek voel – en ‘n bietjie siek om te weet dis alles verby – net ‘n brokkie geskiedenis?* Ek deel ‘n klompie foto’s van die 13 jaar, met opset nie chronologies nie. .