Met die rondstuurdery van studentefoto’s tussen Kollegemanne van doer rondom die 60’s beland op my skerm na my wete die enigste bestaande foto van my Fiat 500-stasiewa, bekend as die “Grassnyer” of die  “Skoolbus” – albei my Tukkiemaat  Pierre le Roux se kreatiewe skeppings. Ek is uit  my vel van opgewondenheid.

Die foto kom uit Pierre se album. Hy was, terloops, ‘n bedrewe naamgewer; het  ‘n lykwa ‘n “beentuintaxi” genoem en ‘n ambulans ‘n “aspirant-beentuintaxi”.  Maar dis natuurlik nie nou hier ter sake nie.

Die “Grassnyer”/”Skoolbus” was ’n splinternuwe 62-model, uit die boks,  – ’n donkerbloue.  Die beroemde Cinquecento met sy 500 c.c.-enjin.  Die Taljanertjie het in 1957 in stram ekonomiese tye sy buiging gemaak  en was vinnig ‘n treffer danksy sy kompakte afmetings en ougat voorkoms– die rede vir verkope van 3,5 miljoen.

Vir my was die stasiewaentjie se voorkoms inderdaad te ougat vir woorde.  Die pikante stasiewa-lyfie en seilsondakkie het getuig van Italiaanse pizzazz.  Die sondakkie was ideaal as jy iets langerigs soos ‘n besem wou inlaai. Of die windjie deur ‘n aster se hare wou laat speel.  Sy suinigheid met brandstof was boonop eksieperfeksie vir ‘n studentebegroting.

In die boek, Tutte le Fiat (Al die Fiats, as ek reg uit Italiaans vertaal) kry ek die Fiat 500-stasiewa op bladsy 308. Die Italianers noem hom ewe vernaam die Giardiniera, wat nogal aan die naam “Grassnyer” ‘n sekere geldigheid verleen.

Die grootste dryfveer vir my keuse was egter niks van bostaande nie.  Dit was, om 100 persent eerlik te wees, die enigste nuwe sakpas-motortjie op die vloer op Klerksdorp. Vir die goedkoopste model Mini (wat die alternatief was) sou ons Johannesburg toe moes piekel vir ons aankope. Daarvoor was die gier te onmiddellik.

My nuwe kar had piepklein wieletjies wat gelyk het of dit enige oomblik onder hom kon invou. Toe ek die eerste keer by Kollegetehuis met hom stilhou wou ‘n ander vriend, Cas Jacobs, doodernstig by my weet: “Het jy regtig met die karretjie van Klerksdorp af gery?”

Buiten vir die plesier om die Fiat spottend name te noem, het my vriende nimmereindigende plesier daaruit geput om my motor weg te dra. Dan moes ek plan maak om die kar uit die koshuis se eetsaal te kry, dan was dit ’n hele soektog om ’n geheime wegsteekplek agter digte struike te ontdek. Vir die Van Deventer-ego was dit telkens ’n knou, veral as dit op ’n eerste sleepaand gebeur, of soos die Sondag toe 1962 se joolprinsesse by ons koshuis kom eet het.  Ek sou die mooiste enetjie (in my boekie) huis toe vat, maar moes toe eers vrywilligers opvorder om my kar uit die gesellie te karwei.

Die Fiat was betroubaar. In daardie opsig het hy aan sy doel beantwoord.  Van een ding kon jy hom nie beskuldig nie: krag.  Die toere het vinnig knorrend opgeskiet as jy die 500 c.c.-enjintjie wou aanjaag.  Opdraandes was ‘n “uitdaging”, soos die politici deesdae sware beproewings graag noem.  Om vragmotors op die grootpad verby te steek, moes jy tande kners en vasbyt.

Een dodelike rit met die Fiat Kaap toe vir my eerste skof as parlementêre verslaggewer in 1964 was my laaste.  Die eerste skof het my net gebring van Bloemfontein tot Beaufort-Wes, waar ek in die Wagon Weels-motel oornag het.  Die eindelose trek deur die Karoo van Beaufort-Wes na Laingsburg was met die stadige Fiatjie eenvoudig te veel vir vlees en bloed.

Pas in die Kaap aangeland, het ek by my matriekmaat (wyle) Carel Weeber by Trust-bank in Kaapstad om ’n lening gaan aanklop en ’n gebruikte (blou!) 1964-Cortina gekoop – later my en Tokkie se vrykar.

 

Deel dit: