‘n Vriend stuur die skrikwekkende video van die olifant-tirade in Zambië – die noodlottige aanval op ‘n safarivoertuig waarin ‘n bejaarde Amerikaanse vrou dood is – met die vraag daarby: Wat was jou grootste diereskrik nog in die Wildtuin?
Die vriend is bewus daarvan dat ek in my 26 aftreejare letterlik al honderde keer deur die Paul Krugerhek die wildtuin binne is, al was dit net om in Skukuza kerk toe te gaan of ‘n koerant te gaan koop (in die goeie ou dae).
Hy maak nogal ‘n gewoonte daaraan om met sulke soort vrae half verlore herinneringe te herwin.
Ek kon hom dadelik antwoord. Ook ‘n olifant-insident gewees. Dag en datum is in my geheue gegrif: 24 Junie 2017.
Die Van Deventers, ek en Tokkie, was op pad terug Sabiepark toe na ‘n heerlike saamtrek van oud-Kollegemanne van so iets in die 60 jaar gelede in die boskamp Balule by Olifants.
Ons kom in ons Honda’tjie (so ‘n regop 1999-CR-V) via Onder-Sabie op die H4-1 Skukuza toe – ‘n doelbewuste draai. Ons het lanklaas die gewilde rivierpad verby die welige oewerbos langs die Sabierivier gery. Kort-kort kry ons olifante. By ‘n skerperige boog tussen die piekniekplek Nkuhlu en die hoogwaterbrug moet ek juis weer weens drukke olifant-teenwoordigheid aan weerskante stadiger ry.
Skielik, in n oogwenk, kom ‘n bewegende swart muur van voor op ons afmarsjeer. ‘n Teeltrop van dalk veertig (wie tel as jou hart in jou keel klop?) kom onheilspellend in die natterige teerpad na die weerlose Honda aangeslof. Alle groottes en ouderdomme.
Die voorhoede is minder as 20 meter – dalk nader – van ons af. Ondeurdringbaar, dreigend en onontwykbaar. Jy sien net ‘n see van skurwe lywe, tande en pote wat lyk of dit met elke afgemete tree al hoe groter en swaarder word.
So ‘n intimiderende olifant-optog het ek in my lewensdag nie aanskou nie. Wat nog van uit daardie ongemaklike hoek en op daardie uiters bedrywige stuk van die Wildtuin se “hoofweg” waar die motors vakansetye soms buffer teen buffer ry!
Ek trap haastig rem en swaai die neus veld se kant toe; vat-vat na die Canon langs my. “Los die kamera,” fluister Tokkie egter dringend. “Jou lewe is meer werd as ‘n foto.”
My vrou het ‘n punt beet, besef ek. Die situasie is uiters delikaat. Minstens ‘n halfdosyn babas van plus-minus-speenoud is in die groep. Die geringste prikkel – soos ‘n flits of die klik van die sluiter – kan humeure laat opvlam.
Magteloos sit ons toe daar in ons kleine silwer staalkokon, roerloos gespanne soos snare, terwyl die olifante te vinnig nader kom vir enige gemoedsrus – met wiegende lywe, asook koppe en slurpe wat heen en weer slinger.
Die leier en haar geleide beweeg gelukkig ietwat na links om ‘n botsing te vermy. Die ander volg gedienstig in haar spore, vatafstand van die gryse bestuurder agter die stuurwiel verby. Jy ruik net olifant.
In die agterhoede is ‘n kalfie wat in die skerp westeson ekstra donserig lyk, haar ma en ‘n spelerige jong bul met nog kort, reguit tande. Die kleinding – Tokkie wil hulle altyd net optel! – steek skielik vas en soek-soek met haar slurpie vir ‘n paar slukkies melk. Dit bring die mamma tot ‘n halt. Daarna maak baba doek, soos my vrou dit stel, net voor die snoet van die kar.
Die jong bulletjie vertoef ook en lyk min lus om hom van koers te laat dwing. Eers mik my kant toe met die tandjies skuins bokant my kop. Beweeg toe effens links tot voor die motor en betrag die spulletjie iesegrimmig deur sy skrefiesogies. Dit lyk of die jongeling op twee gedagtes hink.
Op daardie oomblik kom die ma in beweging. Sy en baba onskadelik verby. Bulletjie gee ons ‘n laaste kyk en volg. Die laaste swart lywe wat ek sien, genadiglik, is in my tru- en syspieëltjie.
Die Honda skiet uit sy spore, verby die motors wat van die Skukuzakant opgedam het. Van die insittendes lag breed. Party wys duim in die lug. Ek skat van hulle was ook maar doodbenoud dat ‘n treurspel hom daar voor hul oë gaan afspeel. Maar toe nou nie. (Die foto is deur ‘n Hollander, presies die toneel wat ons gesien het.)
Deel dit: