HvD se webjoernaal vertoef nog ‘n keer by die fassinerende onderwerp van karre. Op die foto sit die uwe met die “wettige” en “onwettige” nommerplate van sy Honda CR-V. Lees in die tweede bydrae hieronder van die potjie wat hy hieroor met die gereg geloop het.

In die eerste bydrae is twee Fred Schnetlerstories – albei oor sy beroemde 41 Packard. In die eerste vertel die ontslape kollega in sy eie woorde hoe daardie kar ‘n jeugdroom verwesenlik het. Dis ‘n mooi storie, wat deur Fred se suster, Esther Townsend van die Paarl, aan Leo Kritzinger beskikbaar gestel is. Via Leo het dit op Melkbos uitgekom. Ek gaps dit graag vir HvD se blog.

In die tweede vertel ons oud-kollega Ruti van der Merwe uit Nieu-Seeland oor die eerste epiese tog met daardie lank begeerde spogwa en sy “kokende dors”.

Vir Fred Schnetler was die verkryging van sy eie Packard ‘n droom wat hy van jongs af gehad het. Hier is sy Packard-storie in sy eie woorde.

1944: My droommotor – Fred Schnetler

In die Oorlogsjare (dis nou Wêreldoorlog Twee) kon ‘n mens geen nuwe motors koop nie. Altans nie van ’42 af nie, want gewone passasierskarre is toe net eenvoudig nie gemaak nie.

En as jy ‘n plattelander was soos ek, en van karre gehou het, het jy maar min geleentheid gehad om iets te sien wat werklikwaar anders was. Ons karre was Chevs en Fords en Plymouths – af en toe ‘n Dodge, ‘n Mercury of ‘n Buick, effe duurder variasies op die Chev-Ford-Plymouth-tema.

My pa het ‘n ’36-Chev gery. Die enigste twee ander karre op Coetzeestroom was twee van die onderwysers s’n: mnr. Breyl se ’39-Chev en mnr. Du Toit se ’34-Dodge. Georg Lutz, die winkelier van Kaapse Hoop, het ‘n ’41-Chev gery en mnr. Nöffke, die bosbouer op Berlin, ‘n ’39-Ford. Mnr. Dieterle, skoolhoof op Berlin, se kar was ‘n ’39-Buick en een van sy onderwysers het ‘n DKW verkies. Oubaas Hull, ‘n eksentrieke ou wewenaar wie se koeie op die oorblywende oop veld op Coetzeestroom en Berlin gewei het, het ‘n 1928-Buick gehad wat hy omgebou het om in te slaap. Hy en sy Buick het saam met die koeie van weiveld na weiveld getrek en hy het net van sop en brood geleef, totdat sy seun, wat iewers in die Noorde gekwes was, teruggekom en ‘n huis op Kaapse Hoop gekoop het waar hulle twee toe gebly het. Niemand anders het motors besit nie – en as jy een gehad het, het jy maar min gery, want petrol was gerantsoeneer en nuwe bande so skaars soos ‘n houtperd se mis.

Een keer per maand het die distriksbeampte, mnr. De Souza van Barberton, inspeksie op Coetzeestroom en Berlin gedoen en sy kar, ‘n 1942-Studebaker, was die nuutste en weelderigste motor wat ‘n mens in daardie deel van die wêreld kon sien. Ek het meer prentjies van daardie Studebaker geteken as enige ander kar wat ek kleintyd gesien het. Dit was ‘n Commander Skyline, met merkwaardig min chroombeslag vir ‘n Amerikaanse motor. Net die buffers an deurhandvatsels was verchroom, die naafdoppe en die verkoelerrooster was donkerblou geverf, het soos die kar se dak. Die onderkant van die bak was liggrys. Baie jare later het ek gelees dat die Amerikaanse regering die motorvervaardigers ná Pearl Harbor belet het om chroomsmuk te gebruik omdat elke krieseltjie chroom vir wapentuig gebruik moes word. En op 8 Februarie ’42 is die vervaardiging van passasiersmotors opgeskort tot ná die Oorlog.

Enkele maande nadat ons op Coetzeestroom aangekom het, het die destydse minister van landbou en bosbou, adv. Kosie Strauss, al die plantasies in die land kom besoek. My pa het gesê hy wou nie net kom kyk hoe die bosbou bedryf word nie – hy het dit ook gedoen omdat so baie van die nedersetters op die plantasies tradisioneel Sap gestem het. Die minister en sy gevolg sou die middag by ons eet en my ma, wat baie lekker kon kook, het alles van die heel beste aan die vername gaste voorgesit.

En toe kom die minister in sy manjifieke kar.

So ‘n lang kar het ek in my lewe nie gesien nie, en dit was in der waarheid die grootse motor wat in die beginjare veertig vervaardig is: ‘n majestueuse Packard 180 Super Eight. Die enjin kon jy nie hoor nie, net ‘n diep gebrom agter van die uitlaat se kant af. Hy was pikswart, met ryk chroombeslag en witwandbande en die twee noodwiele was weerskante van die enjinkap in die modderskerms gemonteer. Tussen die bestuurder se sitplek en die agterste deel van die bak was ‘n afskorting van glas. Die agterste (vername) passasiers het op liggrys wolkussings gesit en die vloer was met ‘n dik liggrys Wilton-pluispoolmat bedek.

Dit was deftigheid op sy heel beste.

Ná ete moes my ouers vir my en my sussie aan die hoë gaste voorstel. Die minister se private sekretaris vra my toe die standaardvraag: “Boet, wat wil jy word as jy groot is?”

“Meneer,” was my antwoord, “Ek weet nie wat nie, maar ek wil ‘n Packard hê soos die een waarmee u gekom het.”

Ja, ek hét uiteindelik ‘n Packard gekry, ‘n volle 35 jaar later. Dit was nie ‘n 1942-Super Eight nie, maar ‘n 1941-Packard 110-sedan, ‘n heelwat goedkoper weergawe van daardie motor des motors.

Dit was in elk geval net so deftig soos die minister se kar. En ek het hom ‘n volle 25 jaar lank geniet.

Ruti van der Merwe, oud-Volksbladjoernalis wat deesdae in Nieu-Seeland woon, het saam gery die dag toe Fred se Packard op Kroonstad gaan haal is. Langs die pad moes hulle ‘n emmer koop. Die Packard moes by elke plaasdam stilhou. Ruti vertel.

Packard se kokende dors – Ruti van der Merwe

Ek en Fred het baie lang paaie saam gestap. Daar was dae van beproewinge maar die lied in die hart het altyd gesing. Een van daardie “beproefde dae” was toe hy een dag voor my sportkantoor lessenaar opdaag en sê: “Vêntjie, ek het my begeerde Packard gekoop. Dit is 41 en hy is in Kroonstad. Ons moet hom Vrydag loop haal”.

So sit ek en Freddo Vrydagmiddag nadat die laaste sportblad gesak het, af Kroonstad toe. Packard is maar in ‘n so-so toestand maar Fred besluit hy koop hom, kom hel of hoë water. Nou terug Bloem toe. Fred agter die Packard se wiel en ek in die “toetskar” agterna. Maar Packard besluit hy kook elke 20 km.

So sukkel ons tot in Ventersburg waar ons ‘n plêstiek emmer by die kooperasie koop. Nou aan na Bloem. By elke plaasdam langs die pad stop ons. En ek loop skep water om die Packard se kokende dors te les.

Deel dit: