
Vier matriekmaats van Potch-Volkies 50 jaar later. Van links is Giel de Swardt, Mornay du Plessis, Leon Engela en Hennie van Deventer
Die eerste sterfgeval van ‘n klasmaat wat teenwoordig was by ons klas van ’57 se “goue bruilof” in September 2007 was dié van Mornay du Plessis – na ‘n motorongeluk. Die nuus van sy treurige dood het werklik soos ‘n skokgolf deur die klas getrek, want hy was ‘n juweelmens vir wie ons almal lief was.
Sy nederigheid, vriendelikheid, mensliewendheid en sonnige glimlag het van hierdie ortopeed van Pretoria ‘n baie spesiale vriend gemaak.
Die laaste keer dat ek hom gesien het, was by daardie heuglike reünie op Potchefstroom. Hy was dalk die een van ons wat die minste verander het – hy’t jonk van voorkoms en van gees gebly, en was net so hartlik en opreg belangstellend in ons elkeen se wel en wee soos altyd.
Al het ons mekaar nie gereeld gesien nie, het ek wonderlike herinneringe aan Mornay, my kamermaat in standerd agt in Volkies se Jack Pauw-koshuis. Ons het saam vrugte gesteel langs Potch se watervore en smiddae ”bok-bok-staan-styf”, “rounders” en “French krieket” gespeel.
Die kameraadskap tussen my, Mornay en twee boesemvriendinne, Marie en Juriana, met wie ons gekys was, onthou ek na meer as ‘n halfeeu met deernis. In ons eerste jaar op Tukkies het ons selfs een keer Potchefstroom toe geryloop vir ‘n Sondagkuiertjie saam met ons meisies op Juriana-hulle se plaas by Fochville.
‘n Geskenk van Mornay is ‘n CD, “Strykers vir Snuiters van Christa Steyn”, met onder andere ou volkspeleliedjies soos “Kom Patertjie buig” en “Jy, jy, laat my soms treurig voel…”
Ek luister daarna en voel dan werklik treurig oor Mornay.
* Mornay du Plessis is op 18 April 2009 oorlede. ‘n Ander klasmaat, Christine Marais (nèè Steyn), is op 16 Januarie 2008 oorlede, maar weens haar siekte was sy nie by die reünie nie. (HvD)