En die hoop pap? Die foto kom van Philip van Rensburg. Die oorsprong is Sabiepark se jaarvergadering in Julie. Klaarblyklik kom dit uit die era voor die bloeddruk-skrik en die duneet-dissiplines.
Dit is natuurlik ietwat onsensitief om juis nou so ‘n foto te stuur. Maar nou ja, dit herinner darem hoe (buitensporig) lekker tot ‘n ruk gelede nog ge-eet en gedrink is. En daardie pap en “sheba” (‘n spesiale soort tamatie- en uiesmoor) smaak vorentoe, hoor!
Van Sarel Venter kom die blink idee dat hierdie blog onder meer as ‘n soort “kletskamer” vir oud-Volksbladders dien. Die “onder meer” is ‘n doelbewuste woordkeuse. Die bedoeling sou immers nooit kon wees om dit net vir die of daardie groep af te baken of te reserveer nie. Maar ek hou van Sarel se idee – ene wat voortbou op sy vorige suggestie dat die Volksbladmense van ons generasie van tyd tot tyd mekaar oor hul doen en late op die hoogte hou.
Hierdie blog kan daardie funksie verrig. Sonder veel moeite. Laat die e-posse dus instroom!
Of wag, kommunikasie hoef natuurlik nie noodwendig per e-pos te wees nie. Onderaan die blog is ruimte vir opmerkings of kommentaar. Benut dit gerus om saam te gesels.
Maar is “kletskamer” ‘n lekker woord? Klink dalk ‘n bietjie onwaardig vir gryskoppe en kierieswaaiers. Met my liefde vir ‘n vuurtjie sou ‘n naam soos “kampvuur” my meer geval. Ander voorstelle?
Sarel was so vriendelik om ook van my ander e-aktiwiteite onder die aandag te bring. Die webwerf, www.hennievandeventer.com, behoort hierdie week ver te vorder. Teen Woensdag sal die meeste blaaie gelaai wees. Ek sal laat weet.
Belangstellendes wat nou al wil gaan rondloer, is egter meer as welkom.
Met die Van D’s gaan dit in die algemeen voorspoedig. Die tweeling se gebrek aan spraaksaamheid (anders as hul oupa!) veroorsaak ‘n effense ongerustheid. Kundige evaluering dui egter net op ‘n spiertraagheid wat reggestel kan word. Ons moet maar geduldig wees.
Johan en Mariza kom Dinsdag terug uit Sabiepark. Die twee – en Mariza se Aussiesuster en haar gesin – was baie gelukkig aan die dierefront. Hulle het ‘n groot verskeidenheid wild gesien. Sabiepark se piekniekplek was veral ‘n groot bron van Bosveldvreugde.
Ek brand om weer by Tarlehoet ‘n vuurtjie aan te steek. Maar dit sal waarskynlik moet wag tot Januarie.
Nuus oor vriende is o.m. dat Alf Ries nou in Johannesburg by sy kinders is. Hy moet nog ses of so bestralings ondergaan. Daarna sal hy graag wil terugkom Kaap toe. Die tyd sal maar moet leer hoe haalbaar dit is. My plan is om more by Chris Moolman in te loer. Weet nie of al besluit is watter behandeling hy moet kry vir die gewas onder sy arm wat Maandag verwyder is nie.
Rina Koen het ‘n sleg ding oorgekom. Sy was Johannesburg toe vir M-Net se feestelikhede, en kry toe in ‘n restaurant ‘n dwelm in wat haar totaal uitskop. Bloedtoetse dui aan dit was dagga wat skynbaar in ‘n poeding ingeroer was.
Hoe meer dae hoe meer dinge!
Groetnis
HvD
