Hierdie “blog” was lank geblokkeer – al van einde Oktober af. Die rede was die min aanvanklike verkeer. ‘n “Blog” sonder lesers is vir die skrywer natuurlik erg frustrerend, soos ‘n dollee (umlaut op die tweede e) saal vir ‘n politikus of ‘n sanger moet wees.
Natuurlik moet blog-skrywer, politikus, sanger of wie ookal, nie elders die skuld gaan soek nie. So ‘n toedrag van sake noop (of behoort te noop) tot ‘n hand wat in die eie boesem gaan delf. Dit is presies wat ek gedoen het. Die gevolgtrekking was voor die hand liggend: my “blog” is droog.
‘n Inspuiting van die een of ander leser-stimulant of permanente opskorting was skynbaar die enigste opsies. Aptekers verkoop eersgenoemde nie oor die toonbank nie. Laasgenoemde was dus al wat oorgebly het.
Een keer tevore het ek tog die dooie perd weer opgesaal. Vandag doen ek dit ‘n tweede keer. Hoekom?
Vir eers is Kerstyd ‘n baie spesiale tyd. ‘n Mens voel ‘n soort toegeneentheid teenoor jou ewenaaste wat anders en sterker is as in die res van die jaar. Jy stuur Kerskaartjies, sms’e en e-posse. Jy soek vriende op of bel.
In sulke tye van wellewendheid moet die blokkering van jou “blog” nie ‘n blok aan jou been wees nie! Jou “blog”-ruimte bied homself immers as ‘n bykomende kanaal vir Kerswense aan. Hoekom dit dan nie benut nie? (Kyk hierbo.)
Ten tweede beleef die hvd-blog die afgelope tyd ‘n soort “Indiese somer”, met heelwat meer verkeer as aan die begin. Koppeling met die Afrikaanse sambreeldomein Die Knoop speel daarin ‘n klaarblyklike rol. Nou het die Peterjasie Patriot van Pretoria (www.peterjasie.co.za/patriot102) hennievandeventer.com die eer aangedoen om hom uit die bloute by sy intekenare aan te beveel .
Ek kon vir die peterjasie-mense laat weet: dit werk, hoor! Uit die peterjasie-oord word ‘n gereelde besoekerstroom na die dotkom ondervind. Dit spoel oor na die “blog”. Die “outside working”-kennisgewing word dus ‘n verleentheid.
Aan die “ou einde van die dag” (met apologie aan Naas Botha) het ek ‘n paar mededelings op die hart:
(i) Mayafudi- memories of an elephant staan boksevol hier op my studeerkamer se vloer. Die bemarking aan boekwinkels sal vroeg in die nuwe jaar afskop. Die spesiale Mayafudi-webwerf, www.mayafudi.co.za, staan ook voet in die stiebeuel (met apologie aan Johan van Wyk).
(ii) George Holloway, die ou doring, se laaste hoofstukke van die Engelse Buurman (Next Door to the Kruger) is by die tikster. Hou gerus ook www.sabiestories.co.za dop.
(iii) Oud-kollega Ruti van der Merwe en sy vrou, Naomi, het na 11 jaar uit Nieu-Seeland kom kuier. Hulle gaan hier in die Kaap tuis by Tom Ferreira (eweneens ‘n oud-Volksbladder) en sy vrou, Marietjie, in Van Riebeeckshof. Toe kom die ellende soos diewe in die nag… Terwyl hulle rustig slaap, word feitlik als wat hulle saamgebring het, weggedra – geld, paspoorte, vliegkaartjies, die lot. Vanselfsprekend is hulle galbitter. Hy sit nie weer sy voet in sy ou vaderland nie, se Ruti. Kan ‘n mens die stomme man kwalik neem?
(iv) Na sewe jaar is die Honda CR-V met ‘n nuwe vervang. Sulke spandabelheid van ‘n ou man rus swaar op my pensioentrekker-gewete, maar, ai, die nuwe wiele is darem ‘n reuseplesier. Ek gaan loer elke nou en dan by die motorhuis in om te kyk of die rooksilwer meneer met die papiernommers nog veilig daar staan. (Registrasie vind eers in Januarie plaas – dan word hy TY24 – WP, wat weer ‘n ander storie vir ‘n ander tyd is).
(v) Die Van D’s verlang na die bos met ‘n seer hart. Vroeg in Januarie swaai ons die ou CR-V se neus noordwaarts. Hy word nou ons “bosbus”. Die blou kombi kom op die mark. Enige aanbiedings? (Laat ek so rustig afsluit soos ek begin het, maar as een Kapenaar weer vir my wil vertel hoe warm ons in die somer in die Laeveld gaan kry, skree ek uit volle bors. Alla kragtie, die hitte van die bos is ver-ver verkieslik bo die Suidoos se gereelde somer-aanslae hier. In Sabiepark sal elke aand vleis braai. Hier kan jy maar daarvan vergeet. Boonop wink die ou swembadjie wat TvD met haar bos-kreepy-krauley so kraaknetjies hou…)
Wederom
HvD
