Vraag een vir die dag: watter pad is die besigste in Suid-Afrika? Ben Schoeman tussen Johannesburg en Pretoria, sou ek raai, hoewel die N1 tussen die noordelike stadsgebiede en Kaapstad ook maar ‘n nagmerrie kan wees.
Vraag twee: en watter pad is die stilste? Vir die antwoord ploeg ek met anderman – my vriend Herman le Roux wat op die foto hierbo saam met my en Tokkie op Sedgefield se strand staan – se kalwers.
Hy het laat weet van ‘n ongelooflike rit van 120 kilometer en, met sy toestemming, gaps ek sy storie vandag vir my blog.
Herman is aan die woord:
“Niemand sal my glo nie, maar ek en Rina (sy vrou – hvd) het Woensdag met ons terugreis ná ‘n vakansie in Suid-Kaapland oor ‘n afstand van 110 km nie ‘n enkele voertuig van voor gekry nie. En ons het op dié pad nie nodig gehad om ‘n voertuig verby te steek nie en geen voertuig het ons verbygesteek nie!
“Ná ‘n paar wonderlike dae in die Addo-olifantpark het ons oor Paterson, Kookhuis (is dit werklik nodig om dié plek ‘n Afrikaanse naam te gee?), Cradock, Hofmeyr en Steynsburg gery. Toe besluit ek om die grondpad van ‘n rapsie meer as 60 km na Venterstad aan te durf en oor Bethulie (waar my pa grootgeword het) na Springfontein te ry.
“Dit was ‘n goeie grondpad, maar ek was tog lugtig vir ‘n klip(pie) wat deur ‘n aankomende motor of bakkie op my voorruit gegooi kan word. Behalwe ‘n boer wat buite sy plaashek by ‘n lorrie gestaan het en ‘n korhaan wat oor die pad gehardloop het, het ons niks, maar niks teengekom nie.
“Toe ry ons op ‘n netjiese teerpad van Venterstad (30 km) na die pragtige Bethulie-brug – en steeds geen verkeer nie. By die brug is ons wel deur ‘n polisieman gestop wat wou weet of ons enige varkvleis vervoer. Eers ná 20 km op die minder goeie grondpad tussen Bethulie en Springfontein het ons verby ‘n bakkie gery en ‘n paar km verder ‘n tweede een. Oor ‘n afstand van 120 km het ons dus net twee bewegende voertuie teengekom.
“Dui dit op die ontvolking van die platteland, of was ons maar net gelukkig?”
Nee, Herman, ek weet werklik nie. Waarom daardie pad so spookagtig stil was, kan ek nie raai nie. Ek dink egter jou storie hoort in Weg. Stem julle nie saam nie, liewe lesers van HvD se webjoernaal (blog)?
HvD
