Die goeie in mense aanvaar ons dikwels as vanselfsprekend. Dit word die norm waarvolgens almal almal oordeel. Laat iemand net nie aan ons verwagtinge voldoen nie – dan is ons gou om klippe te gooi.

Vir ‘n hele paar vriende – en ook ‘n totaal onbekende – wil ek vandag dankie sê dat hulle my opnuut die goeie in mense laat raaksien het: hoe blymoedig, moedig, gelowig en opofferend mense kan wees; hoe hulle kan vasbyt en hulle in die tergendste omstandighede nie laat onderkry nie.

Piet en Petro Theron, ou vriende van Bloemfontein (boonste foto), was die laaste twee maande in die Kaap met hul jongste seun, Pieta ( 35), wat in die Constantiaberg-kliniek drie breinoperasies ondergaan het. Sy lewe is lank deur epilepsie ernstig ontwrig na ‘n blinderderm-operasie wat skeefgeloop het. Brein-chirurgie in Kaapstad was die enigste hoop.

Spanning, onsekerheid, bekommernis – dié was daar ongetwyfeld in hierdie tyd konstant oorgenoeg. Maar die Theronne was rotsvas, twee onwankelbare ankers vir Pieta en ‘n bron van besieling vir hul vriende.

Hoe hulle hul kind ondersteun het, was ‘n openbaring. Elke dag was hulle van vroeg tot laat langs sy bed, ware voorbeelde van die geloof, hoop en liefde waartoe die Bybel ons oproep. Vanoggend kon hulle in die pad val terug Bloemfontein toe – drie opgewonde en dankbare mense, want dit lyk of die operasies ‘n groot sukses was en of vir Pieta ‘n beter lewe kan voorlê.

Hoe lank en steil die pad nog gaan wees, weet niemand. Die rehabilitasie kan lank vat. Maar die Theronne is goed toegerus – dit weet hul vriende wat in bewondering hul hantering van hierdie groot pyn in hul lewens sien, en bevoorreg was om hul ongelooflike toewyding van die laaste twee maande hier in die verre Kaap van naderby te beleef.

Ander onlangse besoekers aan Melbos wat nie anders kan as om op ‘n mens ‘n diep indruk te maak nie, is ons Sabiepark-vriende uit Pretoria Frik en Martie Nel (foto onder) . Hulle ken ook hartseer. Hul oudste seun, Louis, is weens ‘n besering by geboorte in ‘n inrigting. ‘n Kleinkind, Frederik is sowat ‘n jaar gelede op sy 16de verjaardag oorlede.

Frederik was n dapper seun wat in sy jong lewe deur diep waters is, met meer as 15 operasies aan sy skedel op sy kerfstok. ‘n Toestand soortgelyk aan marmerbeensiekte, wat veroorsaak het dat sy skedelbeen te vinnig groei en dan drukking op sy brein veroorsaak het, het uiteindelik onverwags skielik sy dood veroorsaak.

Die liefde wat Frik en Martie steeds op Louis uitstort, het hulle ook op Frederik uitgestort, en stort hulle eweneens steeds uit op hul ander twee kleinkinders, Clarise, tweelingsuster van Frederik, en Schalk. Die Nels se besoek aan Melkbos het die Van Deventers juis daaraan te danke dat hulle vir Clarise en Schalk die Kaap kom wys het.

In Sabiepark is Frik en Martie se kleinkinders ou bekendes. Hulle bring die Nelletjies gereeld saam. En die kinders is skoon begeesterd oor die plek. Vir Frederik was Sabiepark, in sy eie woorde, baie lief omdat dit hom die geleentheid gegee het om homself uit te leef in sy stokperdjie, skilder, sy gesin en die natuur “wat Jesus vir ons gegee het”. Ek glo hy is dood met wonderlike herinneringe aan Sabiepark – en nog wonderliker herinneringe aan sy oupa en ouma – in sy hart.

Ek dink ook Louis is lief vir die plek, want ‘n mens kan nie anders as om die gelukkige trek op sy gesig waar te neem die kere as hy saam met sy sorgsame ouers daar kom nie.

Frik en Martie, ook julle is vir jul vriende ‘n toonbeeld van toewyding. Ons kan maar net daarna streef om soos julle te wees – al skiet ons telkens te kort weens ongeduld, eie gerief, of wat ook al. Dankie, hoor.

Vir Piet en Moraig Henning van Chiredzi, Zimbabwe, het ons ‘n jaar gelede laas gesien op ‘nprivate reünietjie in Satara in die Wildtuin. Maar ons hoor darem gereeld van hulle per e-pos, en ons lees tussen die lyne hoe swaar hulle daar kry, want kla sal hulle nie.

Dit gaan goed met die Hennings, laat weet my ou Tukkiemaat juis weer gister. “Dankie vir die besorgdheid. Ons leef al weer van dag tot dag. Sit dikwels op die punt van die stoel, soos nou. Die buurplaas se werf, waar Greig (hul seun) tien dae gelede moes trek,is onder militêre bewaking (een indringer teen die ander!). Nog ‘nbuurman (SA burger) se opstal en stukkie plaas wat oorbly,is onder gewapende polisiebewaking. Sulke behandeling van die oorblywende wit boere is tans alledaags dwarsdeurZim.”

Piet-hulle was ook al die slagoffers van gewelddadige beslagleggings van hul duur boerdery-toerusting, en die verliese wat hulle ly, moet enorme afmetings aanneem – ondanks meer as ‘n dosyn hofuitsprake in sy guns.

Maar Piet Henning laat hom nie deur die rampokker-regering in sy aangenome land onderstebo loop nie. “Ons self wordgedryf deur ons verset teen die onreg en ons verontwaardiging teen die owerheid wat dit meegebring het. Daarom hou ons uitso lank as wat dit moontlik is, en ons is vasberade dat ons vergoeding sal wen.”

Dis nou vir jou onverskrokkenheid en onwrikbaarheid wat jou trots maak op die murg wat vriende van jou in hul pype het – terwyl jy stilletjies wonder of jy self nie al hoe lank gelede die aftog sou geblaas het nie.

My laaste storie kom uit die Klein-Karoo. Op pad Karoopark toe na die KKNK stop ons by die Rust-en-Vrede-piekniekterrein aan die soom van die Swartberge om na die waterval te gaan kyk. Die man by die hek – tot my skande ken ek nie eens sy naam nie – laat val toe dat dit vir hom ‘n sware dag is. Sy moeder is die nag deur ‘n boosdoener om die lewe gebring.

Sy moeder die vorige nag vermoor, maar hy is getrou op sy pos! Watter getuigskrif is dit nie vir doodgewone durf en ‘n soort werksetiek wat ongelukkig aan die uitsterf is.

Meneer, ek haal my hoed af vir jou, soos ek my hoed afhaal vir my vriende hierbo. Julle is waarlik die sout van die aarde. HvD

Deel dit: