Die sprankelendste stuk skryfwerk in die Berg-en-Dal-gedenkboek waaroor ek in ‘n vorige aflewering begeesterd geraak het, handel oor ‘n hospitaal-insident voor ‘n operasie op Ansie Rall (op die foto saam met haar man, Willie) van Bloemfontein.

Ek stel Ansie graag self aan die woord:

“Op ‘n dag moes ek vir ‘n rugoperasie gaan by Rosepark-hospitaal. Sewe-uur die oggend het ek my operasieklere gekry: die bekende groen papierjurk met die oop kant agter, en ‘n groen eh.. (wat sal ek dit noem?). Dit voel mos altyd te min. Daarmee saam die “kannie-wharrie”-inspuiting. Toe “wharrie” ek nie meer nie.

“Om 07:45 was die ewe-bekende trollie wat my na die teater sou neem, daar. Die verpleegsters vra dat ek asseblief na die deur van ons kamer sal kom om op die trollie te klim, aangesien daar nie tussen ons vier beddens ook nog plek vir die trollie was nie. So gese so gedaan. Ek was mos nog nie geopereer nie, en flink klim ek uit die bed en stap na die plus-minus een-meter hoe trollie.

“Eers die een knie op, en toe die res. Maar, weens die swaartekrag van die aarde, flerts die “blessit” jurk oop net toe ek gebukkend bo-op die trollie staan. En op daardie blootstellende oomblik, kom die getroue siekebesoeker Jan Slabbert by die deur in vir ‘n voor-operasiegebed. Siestog. Ek het nie meer “gewharrie” nie, maar vir die arme predikant op sy nugtermaag was dit te erg Sy woorde het eers teruggekom toe ek, op my rug en betaamlik onder die wit laken toegedek, hom in die oe kon kyk: “Ag, ou Ansie, wat maak hulle met jou?” En toe gryp die giggelende verpleegsters my onder die predikant se oe uit – sonder die gebed – al giggelende in die gang af tot by die teater.

“Seker die dat dit my byna vyf jaar geneem het om heeltemal te herstel – van die operasie bedoel ek. Oor die “res” kon ek nie meer “wharrie” nie…”

Ek sou graag wou sien hoe Fred Mouton daardie toneeltjie teken! Die besadigde Jan Slabbert se gesig was seker ‘n prentjie op sy eie. Daardie woorde: “Ag ou Ansie, wat maak hulle met jou?” is so eg-Jan Slabbert dat ek hom dit eintlik kan hoor uiter as ek Ansie se stuk lees.

Op die oomblik is Ansie weer onder mediese sorg. Sy kry chemoterapie. Ook ds. Jan is glad nie wel nie waar hy en Ciela op Plettenbergbaai afgetree het.

Vir die “dramatis personae” van bogenoemde verkwiklike storie: beterskap. Ansie, ek hoop jy herstel so mooi (en so vinnig) dat jy nog oor hierdie nuwe mediese ervaring ewe vonkelend gaan verslag doen.

Ja, in daardie gedenkboek is heelwat humor. Een storie wat ongelukkig onvertel gebly het, en wat nogal ‘n bepaalde verband met Ansie se verhaal het, is van die keer toe die kerkraad besluit het om ‘n kombi vir jeugwerk en dies meer aan te skaf.

Dit was. as ek reg onthou, laat in die tagtigs. Die kombi waarop besluit is, was ‘n tweedehandse een, en het behoort aan my buurman, dr. Wim Brummer, ‘n ginekoloog.

Een kerkraadslid, ‘n versigtige kerel, stel toe voor dat iemand wat karre ken gekry word om die kombi deur te kyk – ook hoe die onderstel lyk.

Kap ‘n wyse ouderling toe terug: “Nee wat, dis ‘n ginekoloog se kar. Ek is nie bekommerd oor die onderstel nie…!”

Groete

HvD

Deel dit: