Dis seker ook lekker om ‘n Haai te wees, en dit gaan na die eindfluitjie Saterdag dalk nog lekkerder wees, maar hierdie ou se bloed is blou. Potblou. Niks gaan dit verander nie – ook nie ‘n ontnugterende uitslag Saterdag nie.
Die laaste ruk is die plesier om ‘n Bul te wees, een van die grootste adrenalien-inspuitings wat enige mens kan verlang. Selfs as die Crusaders Saterdag ‘n stokkie voor die triomfantlike Bulle sou gesteek het (iets wat nooit juis in die 80 minute van die wedstryd gedreig het nie) sou dit die enorme opwinding van die vorige Saterdag se meedoenlose verwoesting van die arme Reds nie kon uitwis nie.
Daardie 92-3 was ‘n skouspel, in die bitter seldsame klas van die ewe onvergeetlike-eendag-kriekettoets toe die Proteas (danksy ‘n verwoestende Herschelle Gibbs) die Aussies so voos getimmer het om 436 (of wat ook al) vir ‘n roemryke sege aan te teken.
En toe kyk een van my Melbosvriende nie eens Saterdag nie omdat hy nie van die Bulle hou nie! Swak, Piketberg! Of Ohopoho, soos oud-kollega Johan van Wyk in sy rubriek Stop van Myne sou uitgeroep het. Wat het die arme man (natuurlik ‘n stoere Stormers-ondersteuner) nie gemis nie – TV-sport uit die boonste rak, beter as enige Survivor of National Geographic of Binnelanders of Sewende Laan .. eenvoudig die allerbeste. Loshande.
My Bulle-betowering kom nie van gister af nie. Reeds in 1958, my eerste jaar op Tuks, het Loftus in my bloed gekom. Ons Kollege-ienks het saterdae soontoe gestroom om Tukkiehelde soos Cyril Botha, Johan Pieterse en Koos Claassen in aksie te sien. En Bulle soos Louis Schmidt met sy weglesnor. Later was daar Bulle soos Frik du Preez, Mof Myburgh en Piet Uys. Ja, ek was daardie dag daar toe Frik die skare laat brul het deur te “place”, te “drop” en te “score”.
Voorheen was my ervaring van “groot rugby” Olenpark op Potch waar fris onderwysers soos Johan Claassen en Dick Putter hul dinge gedoen het. En Harry Newton-Walker, Springbokstut, wat my snelballe in ‘n krieketwedstryd tussen Volkies en Potch-Dorp een smartlike Saterdagmiddag vir een ses na die ander oor die grenstoue gelig het.
Toe ek in ’63 Bloemfontein toe is, het ek vir Vrystaat se hardlooprugby ook lief geraak, maar dit was ‘n tweede liefde. Die Bulle het my eerste liefde gebly. Ai, sal ek daardie dag op Vrystaat-stadion vergeet toe Pierre Spies (pa van vandag se Bul-agtsteman) na ‘n Christo Wagenaar-skoppie die bal uit die lug pluk en in die laaste minuut die Curriebeker uit die verslae Vrystaters se greep pluk. Ek was in die sewende hemel.
Sal ek vergeet hoe kwaad die Vrystaters (en ook lede van my eie redaksie) vir my was toe ek pas na my aanvaarding van Die Volksblad se redakteurskap in 1980 my blou onderrok op ‘n Maandag sleg laat uithang.
Noord-Transvaal het die Saterdag op Vrystaat-stadion maklik met die Vrystaat afgereken en Naas Botha was ‘n ster. Toe gaan ruk een van Berg-en-Dal se domineeseuns (die seun van Floris Botha) aan hom op pad tonnel toe aan die einde van die wedstryd. ‘n Kommosie soos min. Die Maandag skryf ek toe ‘n hoofartikel oor sportmanskap – en kom sommer die Vrystaters in die algemeen by omdat hulle die arme Naas deurentyd so geboe het.
Dit was ‘n geldige standpunt, maar komende van die nuwe redakteur met twyfelagtige lojaliteite dalk nie die beste strategie om vriende te maak nie!
Moet se, nou hier op Melkbos is die simpatie vir my rugbyvoorkeure ook maar dun gesaai, en moet ek gereeld smalende aanmerkings oor die Loftus-garde met die bulhorings op hul koppe (en die “bierpense”) trotseer.
Maar nadat die Reds so platgeloop is, stap die hoofouderling uit die konsistorie direk na my bank met die woorde: “Vandag kan jy maar breed sit.” Ek glo volgende Sondag sal ek ewe breed kan sit. Dit sit nie in daai Haai-tjies se broeke om Victor Matfield en sy manne te stuit nie. Ons gaan weer jubel soos op die Rapport-foto hierbo.
“Liefling!” ……
Groete
HvD
