Grootse boeke oor die grote Krugerwildtuin – dit is Salomon Joubert se ensiklopediese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History” beslis. In my boekery is hierdie liefdestaak van die waardevolste skatte; Africana van die eerste water.
Joubert se boekestel is in 2007 deur ‘n klein uitgewery, High Branching, in deftige hardeband met goue beslag gepubliseer. ‘n Bygewerkte tweede uitgawe het op 3 Maart 2013 sy buiging gemaak, die keer in sagteband. Dit was my uitnemende voorreg om hierdie boeke van nasionale betekenis by die verskyning van die tweede uitgawe vir die Afrikaanse dagblaaie te resenseer. Ek was werklik verheug oor die geleentheid.
Tot my teleurstelling het digitale weergawe van die resensie verlore geraak. By die skakel http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303 waar dit destyds te vinde was, kry ‘n mens net die onheilspellende boodskap dat “this site can’t be reached”. Ek herhaal dit graag hier, soos dit in my boek Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017 ) verskyn:
Soos die Sabie, Krokodil, Olifants of Luvuvhu in vloed, só vloei die nostalgie breed en onstuitbaar wanneer ’n wildtuinliefhebber in Salomon Joubert se pragtrilogie The Kruger National Park – A History verdiep raak.
Salige episodes spoel soos dryfhout verby in die vloedwater van eie herinneringe; beelde word opgetower van kampvuurtjies in ’n gesellige kring, koolstowe met reuseketels kookwater en gloeiende hardekoolstompe waar jy met langsteelgrawe kole kon skep.
Die romantiek van vanmelee word met sjarmante foto’s uit argiewe en private versamelings verbeeld. In primitiewe rondawels was daar nog kamerpotte onder die bed. Riviere is per pont oorgesteek.
Die reuse-arbeid van dié “Mnr. Wildtuin” in sy era as parkhoof (1987-94) is verstommend. Op vele en verre spore word teruggeloop – soos die duisternis spore elke oggend in riviersand. Die register omvat oneindig baie brandhout vir die onthou.
Die ensiklopediese boekestel behels derduisende feite oor alles onder die Kruger-son; van diere tot strukture. Vra sowat enige vraag oor die geskiedenis tot 1994; die antwoord is in hierdie plus-minus 1 500 bladsye se boeiende teks, kaarte, tabelle en grafieke, wil ek waagJoubert het in 1981 van sy mentor, Tol Pienaar, opdrag gekry om ’n omvattende toekomsplan vir die park saam te stel. Dit word ’n meesleurende liefdestaak. Al die navorsingsresultate, nadenke, kundigheid en kreatiwiteit wat ingestort is, vind in sy boeke neerslag, ook in heelwat voorheen ongepubliseerde stof. Prof. Fritz Eloff, vorige baas van die Parkeraad (nou Sanparke), het dit as Joubert se uitmuntendste bydrae tot natuurbewaring beskou: ’n gewigtige pluimpie.
Die skrywer het daarna nie agteroor gaan sit soos van ’n gewone sterfling verwag sou kon word nie. Dadelik het hy dieper begin dolwe, varser feite versamel, insigte verbreed en die ryke oes aan illustrasies uitgebou. Die resultaat is hierdie hersiene uitgawe wat, soos hy dit beskeie stel, die geleentheid gebied het om ’n “paar regstellings te maak, asook hier en daar nuwe inligting en illustrasies by te voeg”.
Die kollektiewe Kruger-dinamiek lewe op die omslae, nou sagteband. Ai, daardie swartwitpense op Volume I darem – die bladsye wemel van sulke natuurlike, onopgesmukte wildtuintonele.
History is die fassinerende verhaal van dié kroonjuweel se verrysenis. Met passie, visie, idealisme en ferm bestuur is die Kruger-wildtuin van ’n nederige begin, soms sukkelende, soms met vaartversnellings, soms deur turbulensies, uitgebou tot ’n park wat in omvang, verskeidenheid en karakter uniek ter wêreld is.
’n Chronologiese safari neem die leser deur vyf tydvakke met ’n verskeidenheid kulture, style, voorkeure en filosofieë. Veranderende beleide, byvoorbeeld oor kunsmatige watergate, beheerde brande en die uitdunning van olifante, kom aan die bod. Strydpunte word openhartig uitgelig.Die pioniers wat Paul Kruger se ideaal moes vergestalt, is prominent: die legendes, karakters en helde (ook anti-helde). In ’n uitgebreide galery maak onbekendes soos Boorman Bosch (die boorman Pieter Bosch) en hoofman Chocwane (Tshokwane) hul buiging.
Die ware hartklop is die ryke natuurlewe: die olifante, leeus en luiperds; die bobbejane en vlakvarke; die kremetarte, maroelas en mopanies; die gompoue, arende en bromvoëls; die krokodille en adders.
Die fokus is, tereg, sterk op hierdie magnete wat derduisende besoekers uit elke windrigting telkens teruglok.
’n Glimlagbrokkie uit ’n ou brosjure is dié wenk: Moenie vir leeus skrik nie. Hulle staar eintlik na julle motors, vreemde goed wat hulle stom verbaas. Hul neuse vertel dit is nie lekker kos nie en stink na petrol!
Niks aan die Kruger is klein nie. Ook niks aan Salomon Joubert se boeke nie. Dis grootse werke oor ’n grootse plek waarvoor die geskiedenis die outeur sal eer. ’n Ruiker tarentaalvere vir die klein uitgewery High Branching.
- Uit die pen van Joubert se mentor, Tol Pienaar, het ook twee gedugte Wildtuinboeke verskyn, Neem uit die Verlede (Protea Boekhuis, 2007) en ‘n selfpublikasie in 2010, Goue jare – die verhaal van die nasionale Krugerwildtuin (1947 tot 1991). Pienaar se boeke en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ’n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” Eersgenoemde is ook deur my geresenseer. Daaroor skryf ek in ‘n volgende blog.