Sport-misoes van die jaar 2023 moet die inploffing van SA atletiek in Boedapest wees. Altesaam 66 lande neem deel. Suid-Afrika eindig op nommer 65 -‘n kortkop voor die houtlepelwenner, Eritrea. Beste vertoning is Wayde van Niekerk se teleurstellende sewende plek in die eindronde van die 400 meter. ‘n Aflosstokkie word laat val. ‘n Naelloper word gediskwalifiseer. In die marathon maak ons beste 51ste klaar. Een kom heel laaste onder die atlete wat die wedloop voltooi.
So loop die grafiek onstuitbaar afwaarts sedert 2017 toe ons die laaste keer medaljes kon inpalm. Wat skort? Ek is maar ‘n leek en het nie antwoorde nie. My indruk, vir wat dit werd is, is dat atletiek ‘n aspoestersport geword het.
Ek onthou nog hoe ek as student in die 60’s gereeld na Pilditch in Pretoria toe is om atletiek te kyk, hoe ek selfs Stellenbosch toe is om Tukkies by ‘n Dalrymple te ondersteun (die dae van Sep Serfontein), ek onthou prestige-byeenkomste soos op Tweede Kersdag in die Paarl en opwindende uurbyeenkomste in Bloemfontein, Pretoria, Stellenbosch en elders.
Ek onthou die name van ritse kampioene, wenners van goue medaljes by Olimpiese Speles, soos Esther Brand en ander uitblinkers. Ek onthou die nasionale tranedal oor Gert Potgieter se motorongeluk op die vooraand van ‘n winkende triomf. Ek onthou die era van Fanie Van Zyl, Dickey Broberg, Danie Malan en March Fiascanaro. Ek onthou kaalvoet-skoolmeisie Zola Budd.
Ek onthou toe atletiek ‘n topsport was en die beste atlete nasionale helde. Maar iets het die wiele laat afval. In koerante lees ek meer van Banyana Banyana as van atletiek. Op ons TV brul Max Verstappern se F1-renmotor elke naweek terwyl jy vergeefs na ‘n bietjie atletiek smag.
Is ek maar net in ‘n mismoedige bui of behoort atletiekglorie in SA ook tot die verlede? Kan dit reggeruk word of nie? Wat dink die kenners?