‘n Kollega, Chris (Molie) Moolman, se beskrywing van ‘n regtige groot fiasko was dat dit die grootste bokkerop sedert Perdeberg in die Boere-oorlog is.Die Min Shaw-moles wat in die nuwe Huisgenoot (deels) oopgekrap word, sou honderd persent aan Molie se Wet van Katastrofes voldoen het.
Een ding weet ons vandag vir seker: Min Shaw (91) is NIE met die katelknaap Shaun Mynhardt (52), haar bestuurder en biograaf, getroud soos voorheen met gedokterde foto’s en versinde e-posse – lekker soetsappig daarby – uitvoerig berig is nie.
Hierdie feit voel ek my geroepe om aan die hand van Huisgenoot se jongste mededelings in die verband bekend te maak; soos ek my voorheen geroepe gevoel het om – met ‘n skeutjie sardoniese kommentaar van my eie – aan die hand van Huisgenoot se vorige mededelings in daardie verband die teendeel bekend te maak, naamlik dat ‘n romantiese huwelik voltrek is en dat ‘n wittebrood op Mauritius sou volg .
Dit blyk, liewe vriende, dat Huisgenoot (en die liewe Min) die slagoffers van ‘n diaboliese misleiding van reusagtige proporsies was. Die detail laat ek daar. Om in die besonderhede van die petalje dieper te delf om agter die kap van die byl te probeer kom, vind ek werklik te veeleisend en uitdagend. Elke leser liewer vir hom- of haarself!
Darem net dit: sowat van verwikkelde duimsuiery het ek nog nie voorheen oor ‘n verhouding tussen twee mense teegekom nie. Soveel duimsuiery en soveel raaiselvrae. Nadat jy alles gelees en probeer verteer het, bly immers die groot vraag: Hoe op dees aarde was al hierdie dinge moontlik? Verder: Hoe kon sulke omvangryke bedrog met valse e-posse plaasvind? Wat sou die motief wees vir al die liegstories? Wat dryf iemand tot sulke duistere gedrag?
Genoeg. Kom ek wens die ontnugterde Min in al haar broosheid net die allerbeste toe waar sy in ‘n Randse staatshospitaal gereed gemaak word vir ‘n operasie na ‘n ongeluk wat nie onverwant is nie aan die hele jammerlike episode waarvan die einde seker nog nie gehoor is nie.