Om ‘n tjoppie agter tralies op die kole te sit met ‘n skietding gerieflike binne bereik klink vir ‘n Melkbosser – ver van die groot misdaadneste – na ‘n nare droom. Dis ‘n nagmerrie wat ‘n siddering deur jou stuur.

Voor die koms van die jaar 2000 al was dit vir sommige in Suid-Afrika ‘n harde werklikheid. ‘n Destydse kollega wat iewers in die Alberton-omgewing gewoon het, het ons hier in die Kaap se monde behoorlik laat oophang met sy mededelings oor die omvattende veiligheidsmaatreels by sy huis – en veral oor sy storie oor hoe hy sy rewolwer saamvat rooster toe.

In 2003 het ek my bundeltjie gepubliseer met oneerbiedige hekelversies oor politiek …tot rumatiek. Die titel is Polisie, Polisie, Ons Reenboog Is geroof!

Vir een versie, Tjoppie agter tralies, het daardie waaksame kollega met die skietding by sy braai die inspirasie verskaf. Dit lui:

Ingehok soos watse gekke
Agter tralies met hoe hekke,
Met pistole by ons kole,
Hou ons dikbek
Ons blink bekke.

Aan daardie kollega en daardie versie dink ek toe ek gister, eergister die volgende lees:

“‘n Bewoner ……… is nie net deurentyd bekommerd dat hy sy eiendom gaan verloor nie, maar leef in ‘n staat van nimmereindigende persoonlike gevaar. Indien hy 500 tree van sy huis af moet beweeg, is dit vir hom noodsaaklik om sy geweer saam te dra. Hy kan nie ploeg, saai of oes sonder sy wapens nie. As hy iets in sy groetentetuin wil gaan pluk, doen hy dit wapen in sy hand. Om deurentyd in sulke angs en kommer te kan oorleef, vereis dat ‘n mens van kleintyd af daaraan gewoond moet wees of onbewus van ‘n gemakliker lewenswyse moet wees.”

Die aanhaling kom uit Jackie Grobler se boeiende boekie Uitdaging & Antwoord – ‘n vars perspektief op die evolusie van die Afrikaners. Dit is neergepen deur John Barrow, volgens Grobler geensins ‘n vriend van die Afrikanerboere nie. Trouens, hy het telkens neerhalend oor hulle berig.

Die “bewoners” oor wie hy met soveel empatie skryf, was die grensboere in die Sneeubrge noord van Graaff-Reinet, wat deur die San bedreig was.

Die jaar was 1798 – meer as twee eeue gelede.

Wat is nuut? (HvD)

Deel dit: