Lake Panic - 'n oomblik van betowering (Foto: Brent Claassens)

Lake Panic - 'n oomblik van betowering (Foto: Brent Claassens)

Die Meer van die Drie Raaisels – vanwaar Gehasi? Nee, so ver my kennis strek, bestaan ‘n plek met die naam nie regtig nie. Dis sommer my eie naam vir ‘n stukkie Wildtuin-weelde waarvoor die Van D’s baie lief is.

Ek verwys na Lake Panic, die voelskuiling in die Kruger-wildtuin neffens die Skukuza-gholfklub en ‘n hanetree van die teerpad tussen die Krugerhek en Skukuza. Draai net in by die eerste grondpaadjie na links. Dan is dit net twee kilometer.

Die drie raaisels is die volgende:

Hoekom is die juweeltjie nog so relatief onontdek?

Hoekom so ‘n koddige naam?

Wat het ‘n onbekende daar gesien wat, volgens hom of haar, alle verbeelding te bowe gaan?

Ons het al hoeveel vriende na Lake Panic verwys. Dan is die bestaan van die plek aan hulle onbekend en die kennismaking ‘n heerlike ontdekking. Op hulle beurt stuur hulle vriende daarheen. So ontstaan ‘n ketting van “ambassadeurs” en bewonderaars. Desondanks kom ‘n mens selfs op ‘n besige dag nog redelik maklik in – al word staanplek vir motors tot agt beperk.

Die naam kom van ‘n vloed toe die dam in aanbou was en die vrees dat die nuwe wal sou meegee. So het ek iewers gelees. Ek skryf toe vir Ben en Jeanette Coetsee in Tennessee, wetende dat hulle meer lig sal kan werp. Lake Panic is gebore in hul era in die Kruger-Wildtuin.

Jeanette het nie op haar laat wag nie. Sy het laat weet:

“Die Lake Panic storie moet ek hier uit die argiewe van my kop grawe en dit is nie meer ‘n jong kop nie!

“Die Skukuza-gholfbaan was net nege putjies en met die groter maak, is die dam gebou. Ek skat dat dit omtrent 1977 was. Die dam het ‘n grondwal, soos jy weet, met die oorloop wat na die toeristeteerpad se kant uitmond.

“Een middag het ‘n vreeslike donderstorm losgebars en die sluise van die hemele oopgetrek – wat ons noem ‘n wolkbreuk. Hierdie reen was in die opvanggebied van die dam en skielik kom al hierdie baie water in die nuwe dam in. Sou die water oor die wal gaan, dan sou dit verby wees met die dam – en, glo my, dit was ‘n massa water.

“Al wat leef en beef kom toe met hulle grawe en grawe die uitloop van die dam dieper en groter sodat die water kan uitloop om te verhoed dat dit oor die wal gaan. Teen hierdie tyd was die reen al verby en het die manne net paniekerig probeer om die dam te red. En gered is hy!

“Die nuwe gholf-klubhuis was in daardie stadium langs die muurbalbaan. ‘n Klompie jare later is die klubhuis op die oewer van die dam gebou (gaan eet gerus daar ontbyt – HvD).

“Ons het in die hoekhuis, nommer 91, gewoon waar die nuwe stuk baan toe aangele is. Gou-gou het een seekoei by die nuwe dam ingetrek. Smiddags laat het hy uitgekom en op die baan gewei. Ons het dit geniet om uit die sitkamervenster na die ou grote te kyk. Ons het ‘n dapper poging aangewend om gras te plant op die sypaadjie, maar met daardie groot voete wat gate trap in die nat grond en ‘n bek wat elke spriet uitpluk, het ons naderhand opgegee. Die vlakvarke is natuurlik ook nie bevorderlik vir die dapper poging om gras aan die groei te kry nie.

“Intussen het baie water in die see (dam!) geloop”

Inderdaad, Jeanette. Ook die seekoeibevolking het geweldig gegroei. En die voellewe is iets om oor huis toe te skryf. Alle soorte reiers, grootlangpote, slanghalse, riethane en die hele reeks visvangers wemel. Hulle lok voelkykers van oral met ‘n verskeidenheid diverse kanonlense wat die leek verstom.

Krokodille en bosbokkies is volop. Njalas skuil in die bosse. Die kinders het ‘n trop olifante afgeneem wat die water oorsteek. Ek en Tokkie het al buffels gekry – en ‘n hiena. Een keer was ons net te laat toe ‘n krokodil ‘n bosbokkie probeer vang.

Op die blad van die skuiling het iemand geskryf: ” What I saw here you could not even imagine.” Wat sou dit wees? So ‘n vangs? ‘n Statige reier wat na ure se intense konsentrasie ‘n geil vis uit die water pik? Twee seekoeie wat vlakvoor jou “maatjies maak” (mate), wat ons ook al gesien het?

Nee, ek glo dit moes iets werklik uitsonderliks gewees het. ‘n Een-keer-in-‘n-leeftyd-natuurbelewenis. Ek bars van nuuskierigheid en jaloesie. Wens iemand kon oor die oorsprong van daardie boodskappie die raaisel opklaar. (HvD)

Deel dit: