Van waar, Gehasi? Hoe kry HvD vandag met die olifantjies hierbo die slurpie by die stertjie?

Laat ek julle nie aan ‘n lyntjie hou nie – dis “Mayafudi’s” wat in my Kerspos opgedaag het met Kerswense vir my en Tokkie.

Herman en Rina le Roux van Randburg vra by die boonste ou: “Dis nie dalk Mayafudi nie?” Die onderste twee, uit die bekende Lisa Halstead-versameling, dra weer Thys en Marieta Slabber van Melkbos se goeie wense aan die Van Deventers oor.

Die ou links, met die tande wat amper op die grond sleep, kan dalk selfs Mafunyane wees – die befoeterde oupa van Mayafudi in my olifantstorie.

Hoe dit ook al sy, ek knoop graag by die twee olifantkaartjies aan vir ‘n vinnige handelsflits. Dit is om dankbaar mee te deel dat my olifantboekies, Mayafudi en sy Engelse maat, Mayafudi – memories of an elephant, asook hul ouboet, Buurman van die Wildtuin, oplaas hul staan in die rakke van Tiger’s Eye se Parkwinkels in die Wildtuin en elders gekry het.

Die nuus wat uit daardie geweste kom (dankie, Philip van Rensburg), is dat my bosboekie-trio mooi staan daar in o.m. Skukuza.

Nou’t ek ‘n Kerswens wat ek met julle wil deel. Dis dat daardie boekies nie alger in hierdie dae op die rak gaan bly nie. Ja-nee, niks sal hierdie bosskrywer – met ‘n hart wat klop op die maat van die visarend se roep – groter plesier gee as dat enetjie hier en enetjie daar hul weg tot in Wildtuinbesoekers se Kerskouse vind nie – al is dit nou ook op nommer 99 as ‘n noodshulp-geskenkie.

Sal Sinterklaas nie Melkbos toe laat weet hoeveel boekies hy afgelewer het as hy sy rondes daar in die bos afgehandel het nie?

Iets totaal anders, in ligte luim na die erns van die ope brief aan die arme Thabo in die vorige joernaal, is hierdie e-possie van Esbe Krynauw van Melkbos:

From: Danie Krynauw

To: hvandeventer@mweb.co.za

Sent: Sunday, December 23, 2007 12:16 PM

Subject: Kalenders

“Gister staan ek in die ontvangsportaal van Seapark” (dis nou die plaaslike tehuis vir oues van dae waar Ouma van Wyk haar ook bevind.) ” ‘n Pragtige ruiker staan op die tafel, en daar langs le ‘n groot hoop kalenders. Baie bedagsaam van iemand. Toe kyk ek wie die skenker is en skielik hoor ek die lied : O die blye tyding. Sien , die skenker is ‘n begrafnisondernemer… Esbe.”

Steeds met ‘n glimlag op my bakkies, antwoord ek haar toe soos volg:

“Die blye tyding … ja, dis mos ook wat die gemeente gesing het nadat die dominee aangekondig het hy aanvaar die beroep!

“Of was dit: Vader, dank vir U genade, dis onverdiende guns alleen?

“Van begrafnisondernemers gepraat: Ek ken die storie van die ondernemers wat so inniglik bid: Gee ons vandag ons daaglikse brood.

“En ook die een van die die tronkvoels wat agter die tralies so lustig sing: Liewe Here, sien ons saam hier op U bevel vergader..!”

Op daardie ligsinnige noot, groetnis vir eers. (HvD)

Deel dit: