Sweef soos ‘n arend, sing minnesanger Bles Bridges in een van die liedjies wat hom beroemd gemaak het. Die toenmalige treffer (uit die stal van Mynie Grove) maal in my kop terwyl ek nadink hoe om my avontuurlike arend-storie te vertel.Kom ek begin by die tradisievaste Stellenbosse manskoshuis Eendrag waarvan die koshuiswapen ‘n arend met uitgestrekte vlerke is – op ‘n haar na soos die arend op die ou Volkiewapen (Volkies, Potchefstroom).
Kleinseun Thomas Claassens (21), ‘n student in die Regte in sy vierde jaar, is vanjaar Eendrag se primarius. Verlede Saterdag trek hy toe sy dagdrag aan – kleurbaadjie met sakwapen, Chinolangbroek, das, die lot – en spring so gestewel en gespoor op 10 000 voet uit ‘n ligte vliegtuig met ‘n valskerm; sy eerste sprong, maar darem saam met ‘n ervare instruktrise.
Soos ‘n arend sweef Thomas met wapperende kuif op die video van sy avontuurlike daad waarmee hy sy koshuis se arend-wapen op ‘n unieke manier gestalte gee.
Die valskermsprong is deel van ‘n Eendragprojek om HK-lede op sonderlinge wyse aan die nuwe eerstejaars bekend te stel. Een is glo al op ski’s agter ‘n bakkie in die straat af, ‘n ander = ewe deftig aangetrek – onder die stort.
Natuurlik is hierdie oupa nie min trots op sy vindingryke, kreatiewe, avontuurlustige en dapper kleinseun nie. Hy is net dankbaar in sy dae is soortgelyke dade nie van HK-lede geverg nie. Oupa was in 1962 huisvoorsitter van Kollegetehuis aan Tukkies , en het sowat skotvry afgekom. Die ergste uitdagings van daardie studente-era was omtrent ‘n modderbad en ‘n pil deurdrenk van duiwelsdrek aan die einde van die eerste jaar.
Was Thomas nie bietjie bang nie? Nee, oupa, lag hy, dit was heerlik – ‘n onvergeetlike ervaring. Trouens, ‘n reksprong van ‘n brug oor ‘n ravyn het vir hom tevore ‘n groter verskrikking ingehou.
Foto: Verskaf.