‘n Grysaard wat weens erge hardhorendheid die klok nog net vaagweg hoor lui het, maar dikwels geen benul gehad het waar die klepel hang nie, het op ‘n goeie dag ‘n volksfees van ouds bygewoon. Telkens spring hy opgewonde orent en klap dawerend vir die spreker hande.
Agterna soek die vername spreker hom op en verneem, hoog in sy skik oor die entoesiasme, wat dit in die toespraak was wat die ou man so aangevuur het. Dis daardie kere dat meneer so vuis gebal en uitgeroep het: “Te hel met die spietkops,” verduidelik die ou.
“Te hel met die spietkops?” Toe daag lig vir die spreker. Hy antwoord bra afgehaal: “Neem, oom ek het niks oor spietkops gerep nie. Ek het gesê: “Hulde aan die helde van Spioenkop!”
Instinkiewe simpatie vir die grysaard se gebrek aan vertedering jeens die spesie “spietkop” sal ‘n mens wyd aantref, vermoed ek. Die kuns is hoe om daardie instink te onderdruk wanneer jy die dag aan die magte on owerhede van dié of daardie verkeersafdeling ‘n berouvolle briefie moet skryf om vir afslag op ‘n boete te pleit. Respekte en nederigheid is in so ‘n situasie sterk aan te beveel, nie kille vyandigheid nie.
Laat my dink aan die Matie wat met sy nuwe motor die pad aan die brand gery het Klapmuts se kant toe. Hy belang in ‘n snelstrik en dis ‘n paar maande se sakgeld wat in die spel is. Hy gaan klop toe aan by ‘n studentemaat wat in die regte studeer oor die regte aanhef vir sy ekskuus-brief. Sal hy skryf “waarde heer” of “geagte meneer”?
“ Hoe vinnig het jy gery?”
“170.”
“Skyf dan sommer: “liewe Heer”!
Wat die inhoud van die brief betref, kan ‘n mens dalk leer uit die raad van ‘n senior advokaat aan sy jong kollega wat senuweeagtig sy eerste saak moes gaan verdedig: “As die reg aan jou kant is. hamer die regter. As die feite aan jou kant is, hamer die jurie. As nòg die reg nóg die feite aan jou kant is, hamer die tafel.”
Die geheim van ‘n goeie brief sluit klaarblyklik daarby aan. As jy die reg of die feite aan jou kant het, hamer daarop. Gewoonlik het jy egter in sulke sake geeneen van die twee aan jou kant nie. Dan moet jy as’t ware maar die tafel hamer – maar dan ook net simbolies, hoor. Die geheim is om met allerlei beuselagtige irrelevanthede simpatie te probeer win.
Dat jou vrou onwel was en vinnig by ‘n dokter moes kom, is ‘n flou storie. Daardie ouens is nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie. My eie ervaring is tog dat simpatie vir ‘n mens se status as senior burger bestaan. “Ek bestuur al 50 jaar en hierdie is my eerste boete,” was in die dae voor rekenaars ‘n treffer om klipharde harte te versag. Deesdae moet jy soek na variante wat tegnologiese vermoëns om die waarheid van jou aanspraak te toets, altyd in berekening hou.
Iemand wat ek ken, het in die feestyd gemeen ‘n welwillende versie is net die regte manier om n paar punte aan te teken. Hy het soos volg gedig:
Terwyl ek rustig binne perke rits,
Kom ‘n ieder snel verbygeflits;
Terwyl ek wetsgehoorsaam ry,
Blits sware lorries woerts verby.
Nou’s kiepie al weer swaar beboet
(Is 82 so ‘n verwoede spoed?”)
Ek pleit net vir regverdigheid:
“Hef a heart”, skeld my tog kwyt!
Hy is nie kwytgeskeld nie. Sy boete is wel van R300 tot R190 verminder. Volgens hom is vergoeding van R110 vir ‘n versie van daardie aard heeltemal markverwant.
‘n Mens moet natuurlik nie net jou woorde tel as jy vir verkeersafdelings skryf nie.
Wyle dr. Cor du Preez, veteraan van verskeie verkiesings namens ‘n rits eie politieke partytjies wat gekom en gegaan het, het in 1962 saam met my begin Ll.B studeer aan Tukkies. Hy was ‘n mediese dokter en ietwat ontuis in die regsomgewing.
In ‘n toets kom die vraag: “Bespreek die regsgeding Methodist Church vs. the Master.”
“Prof,” antwoord hy guitig: “Ek het nooit gedink dat ‘n Engelse kerkie my klokke so sou laat lui nie.”
“Ja, dok,” kap die spitsvondige prof. Nico van der Merwe bo-aan sy vraestel terug: “ Toe was dit nie die geklink van huweliksklokkies nie, maar die kluitklap op jou kis!” (HvD)