Die jaar ’57 was die jaar van die Russe se Spoetniek, Jailhouse Rock (die fliek en die trefferliedjie) van Elvis, die gewilde Chev Bel Air en die blyspel West Side Story. Die Huisgenoot het ‘n sjieling gekos en ‘n pakkie 20 Westminster 85 sigarette was 1/3.

In my soektog na wetenswaardighede oor 1957, my matriekjaar, het ek by Leo Kritzinger bogenoemde juweeltjies te wete gekom. Dit was nie vir hom nodig om lank daarvoor rond te krap tussen wat hy sy “goeters” noem nie.

Met daardie “goeters” het ek kennis gemaak toe ek so 18 maande gelede, op aanbeveling van Ollie Olwagen, ‘n gemeenskaplike vriend en oud-kollega, in Brackenfell by Leo gaan aanklop om tipografiese hulp. Dit was vir die fotoboekie Sabiepark – Our Photo Album/ Ons Foto-album wat ‘n jaar gelede verskyn het. “Gaan vra vir Leo, hy’s die beste,” was Ollie se advies.

Hy het my ‘n reuse-guns bewys. Leo het uiteindelik ‘n leeue-aandeel aan die maak van die boek gehad. Sy stempel van joernalistieke vernuf en kreatiwiteit is op elke blad te sien.

Maar sy “goeters”. Dié staan ‘n groot stoepkamer – Leo se werkkamer – van hoek tot kant vol, en loop oor in verskeie ander kamers van die huis, o.m. die sitkamer. Dit is gestapel in kaste, op rakke, in bokse op die vloer, op vensterbanke – enige plek. Alles het te make met Leo se vele stokperdjies.

Daardié stokperdjies sluit in: spotprent-teken, fotografie, boek- tydskrif- en koerantversameling, die versamel van 78-spoed-plate en grammofone, die Titanic, modelmotorjies, ou motors en verwante memorabilia. Sy kosbare vrye tyd word opgeslurp deur die entoesiastiese beoefening van elkeen daarvan.

Sy spotprente en tekeninge het reeds in ‘n aantal Suid-Afrikaanse boeke en tydskrifte verskyn. Hy het twee bundels Wenke wat Werk die lig laat sien — in Engels en Afrikaans – gegrond op ‘n gewilde tydskrifrubriek wat hy langer as tien jaar behartig het.
Sedert 1982 is hy lid van The Early Ford Car Club of South Africa, en het hy die klubtydskrif, The Early Ford Times, se redakteurskap ongeveer 20 jaar behartig. Hy behoort ook tot The Early Ford V-8 Club of America en is ‘n stigterslid van The Cape Town Gramophone & Record Society.

In 2002 het hy die restourasie van ‘n 1932 Ford V-8 sedan voltooi — ‘n taak wat twee en ‘n half jaar geduur het. Die foto hierbo is van hom en sy Fordjie. Dit is geneem op die stel van die Hollywood-fliek Ask The Dust wat grotendeels in die Kaap verfilm is. Die motor is ‘n pronkstuk, en getuig – soos alles waaraan Leo sy hand sit – van voortreflike vakmanskap en liefde vir wat hy doen.

Leo is ‘n kalwer van 1948, gebore in die motorstad Port Elizabeth. Hy was in matriek op Philippolis in die Vrystaat. Daarna het hy by die UPE B.A.-Tale begin studeer, maar ná drie maande het hy besluit dat hy nie vir die akademie uitgeknip was nie. Hy word ‘n etaleur (vensteruitstaller) by die Edgars-groep. Na ‘n jaar aanvaar hy ‘n pos as advertensie-ontwerper by Die Oosterlig, gewese Baaise dagblad.

Daar, soos hy dit self stel, het sy passie vir die gedrukte media ontwikkel. Ihoe seer daardie passie wel ontwikkel het, bly uit sy loopbaan. Hy het in verskeie tydskrifte se redaksies gedien as ontwerper en hoof-ontwerper, o.a. Scope, MAN/Magnum, Huisgenoot, YOU en TV Plus. Hy was ateljeehoof van Huisgenoot en YOU se bladuitleg-afdeling vir bykans 15 jaar. Sy monumente staan daar vir altyd.

In 1999 is hierdie talentvolle man met Parkinsonisme gediagnoseer. In Maart 2003 het hy afgetree op grond van sy gesondheid. Sedertdien bestee hy sy tyd — binne die beperkings wat die siekte aan hom oplê — aan sy motorklub en verwante stokperdjies, grafiese ontwerp, skryfwerk en die aanmekaar-timmer van boekies , soos die Sabieparkboekie, vir lastige mense soos die uwe.

Hy het so pas twee eie boeke voltooi: Daar’s ‘n Ford in Jou Verlede! (‘n versameling outydse Ford-advertensies) en Our Family Car – ‘n versameling ou foto’s van mense met hul motors uit toeka se dae – absoluut sjarmant. Daarbenewens publiseer hy ook outydse groetekaartjies en prente onder die vaandel van Grandma’s Greeting Cards, wat by verskeie oudehede- en geskenkwinkels in die Wes-Kaap verkoop word.

Die afgelope 27 jaar woon hy met sy vrou, Kate, in Brackenfell, naby Kaapstad. Sy gee onderwys by die Alta du Toit-skool vir Verstandelik Gestremdes in Kuilsrivier. Gelukkig vir hom is sy ook – nes hy –‘n versamelverslaafde!

Ondanks alles wat hy bereik het, en alles waarmee hy steeds presteer, is Leo die beskeidenheid vanself. Toe ek hom meedeel dat ek graag op my webjoernaal oor hom ietsie wil skryf, was hy opreg verbaas. “Wie de joos stel belang in my doen en late?!” wou hy by my weet.

Wel, Leo, ek dink jy sal verbaas wees. Vir my is jou doen en late uiters interessant – en ek glo talle lesers van hierdie “bloggie” gaan hierna met my daaroor 1 000 persent saamstem.

Groete

HvD

Deel dit: