Van al die maniere om geld te verloor, is perde die vinnigste, boerdery die sekerste en meisies die lekkerste. Dit is een van die wyshede wat my oud-kollega die rubriekskrywer Johan van Wyk kwytgeraak het.

Wel, van perde en boerdery weet ek nul. Die laaste Julywenner wat ek onthou. is Milesia Pride. Ek dink dit was in die 50’s dat sy (dit was mos ‘n merrie?) haar neus eerste by die wenpaal verby gestoot het. Op ‘n plaas het ek nog net vakansie hou – nooit langer as drie of vier dae nie. Die diere, die implemente en die boere se kragtige voertuie het my altyd plesier gegee, maar van die welstand van hul balansstate was ek onbewus.

Van meisies het ek effens (ook maar effens!) meer ervaring. En party van hulle kan jou kos, boeta! Daarvan het ek pas weer ervaring gehad met twee dames met die vanne Piaf en Alberghetti – enetjie Frans, die ander so Italiaans soos spaghetti.

Piaf is natuurlik Edith Piaf, die beroemde “Mossie van Parys” van die 30’s en 40’s wat in haar sang die Franse taal so betowerend laat klink het dat jou tone krul. Van haar en my liefde vir haar musiek nadat Jan-Jakob de Jager vir my en Tokkie haar langspeelplaat Homage A Piaf as ‘n troupresent gegee het, het ek al geskryf.

Genoeg om te se dat die heerlike fliek oor haar lewe, La Vie En Rose – gaan kyk! – my op ‘n missie laat beland het om ‘n CD van haar te bekom. By CD-winkels oral het ek een bloutjie op ‘n ander geloop. Kom toe darem by Kalahari reg. Die laat kom toe vir my ‘n Franse kompilasie, Edith Piaf – 30e Anniversaire.

Daarop sing sy treffers soos La Vie En Rose, Les Trois Chloches, Milord en Hymne A La’Mour wat ook op die plaat is. ‘n Bonus op die CD is Non, Je Ne Regrette Rien, wat al genoem is Frankryk se antwoord op Frank Sinatra se My Way. Dis aangrypend.

Koste van die CD by die huis afgelewer, was iets soos R160 – wat dit een van die minder goedkoop soort CD’s maak soos oud-kollega Cas Vorster sou gese het. Maar ek kan oor en oor luister. Veral Milord – ‘n liedjie oor ‘n prostituut! – is hoog op my persoonlike lys van gunstelinge.

Me. Piaf is na ‘n hartstogtelike lewe in die vinnige baan in Oktober 1963 op maar net 48 jaar oud oorlede – ook al 45 jaar gelede. Me. Albergetti – Anna Maria Alberghetti, nou 72 – is steeds op die verhoog. Sy is deesdae lid van ‘n senior vermnaaklikheidsgroep Senior Class wat gehore oor die lengte en breedte van Amerika bekoor.

Me. Alberghetti was van sy 12 was ‘n ster op Europese verhoe. Haar loopbaan strek dus oor ‘n allemintige 60 jaar.

Wat my skielik aan hierdie petite Italiaanse koloratuur-sopraan laat dink en die drang in my binneste geplant het om ‘n CD van haar te besit, kan ek nie verklaar nie. Dit het net een aand oor ‘n glasie wyn gebeur.

Ek onthou haar wel uit die dae toe ek vir Tokkie op Bultfontein gaan kuier het. Op die tafel in hul eetkamer was ‘n ouerige grammofoon. Daarop het haar broer, Fanie, nou swaer Fanie van Klaradyn in Brackenfell, graag vir Dean Martin (Memories Are Made of This) en Anna Maria Alberghetti (Estrellita – Klein Sterretjie) gespeel.

Nietemin, as ek gedink het met Piaf soek ek ‘n naald in ‘n hooimied, was die soektog na musiek van daardie swartkoppie met die skitterende oe en verleidelike rooi lippies omtrent ‘n sage,

Met die hulp van Andrew Murray van Bloemfontein en ‘n bietjie huiswerk op die internet het ek besluit die CD wat ek moet he, is Anna Maria Alberghetti Sings For You. Daarop is die onoortreflike Giannina Mia, die Blonde Meisie in die Gondel, Musetta se Walslied, Estrellita self en nog ‘n hele paar ander mooi goed.

Daarmee kon selfs Kalahari egter nie help nie. Uiteindelik kom ek by Global Disccs van High Street Shopping Village in die Tygerberg reg. Maar die eienaar sal vir my ene uit Duitsland moet saambring. Ek het hom die naweek gaan haal.

Piaf en Alberghetti – moet nou nie laf wees en dink dat ek nie CD’s van hierdie twee hetti!

Maar Alberghetti is vir jou nou eers ‘n duur meisie. Vir daardie onverklaarbarte begeerte om haar soet stem in my woonkamer te laat opklink, moet ek toe ‘n koele R220 hoes. Ek troos my darem daaraan dat dit is wat ek nou die dag vir ‘n tweegangmaal en ‘n bottel sauvignon blanc by die peperduur nuwe Nitida-restaurant op die Durbanvillese wynroete moes opdok. En Anna Mariatjie se sang is darem onvergeetliker as die Springbokrepies wat daardie dag (saam met ‘n haas-voorgereg) op die spyskaart was.

Of “Sings For You” inderdaad al die tyd, moeite, energie en geld werd is? Wel, dit sou mos ietwat onridderlik wees om sulke geheimpies uit te lap. Ek sou voel of ek oor ‘n ou liefde skinder, en dit word tog eenvoudig net nie in goeie geselskap gedoen nie! (HvD

Deel dit: