Ledigheid is mos die duiwel se oorkussing. So het my ouma altyd gewaarsku. Die teenoorgestelde van ledigheid is seker hiperaktiwiteit. Die ou Bose speel ook daarin ‘n rol, glo ek.
Getuienis daarvan is pas by Sabiepark se piekniekplek aanskou. Tien leeus kom doelgerig na ‘n troppie rooibokkies aangestap. Jy kan sien hoe hulle hulleself strategies ontplooi vir ‘n vangs. Die volgende oomblik storm ‘n hiperaktiewe jong wyfie stoksiel-alleen. Die bokkies spaander in alle rigtings. Die voortvarende wyfie sit vergeefs die laaste enetjie agterna en syg toe verslae kop-onderstebo grond toe – ‘n bondeltjie verleentheid. Jy moes haar jammer kry.
Die ander leeus was waarskynlik hoogs die duiwel in. Wat de duiwel het in jou ingevaar, jou stommerik, wou hulle sekerlik by haar weet. Die bokkies sou op hul beurt kon vra: hoe de duiwel het ons sonder ongeval uit hierdie leeu-slagyster ontsnap?
Die piekniekplek lewer vanjaar weer juwele. In drie dae was daar die leeujag, ‘n reusetrop buffels (foto hierbo) en die luiperd (sien vorige blog). In my elfde jaar van eienaarskap kan ek nou uiteindelik daarop aanspraak maak dat ek al die Vyf Grotes by die piekniekplek gesien het.
Vriend Fickie Visagie het die Vyf Grotes nou die dag op ‘n vrugbare oggendreis rondom Skukuza raakgeloop. Nie almal is so gelukkig nie. Renosters het my tot dusver hierdie vakansie ontwyk. Gister is ons Pretoriuskop toe. Dit was ‘n vasbyt–rit wat lang ente geen wild opgelewer het nie. Maar gistermiddag kry ons toe ons eerste renoster op die S7. Vanoggend sien ons toe nog twee op die Doispanepad Daardie missie is afgehandel: die Vyf Grotes voltooi vir die wintervakansie van 2008.
In Sabiepark bly spanne hiënas al van vroeg skemer om kampvure dwaal. Vermoedelik het vir hulle ‘n “hongersnood” na die skoolvakansie aangebreek. Met die verskuiwing van Sabiepark se vakansiebevolking na hul gewone tuistes is die beentjies en oorskiet-tjoppies deesdae seker heelwat minder. Ja, werklik daar is nog mense wat hierdie ondiere voer, en nie wil glo dat hulle daardeur ‘n risiko vir onskuldiges skep nie – veral vir kinders.
Ek het oor diesulkes ‘n versie geskryf. Die titel is Na Die Vakansie. So lui dit:
Hope honger diere
Sluip vroeg al om die vure;
O, waar’s hul dan nou:
Al daai gawe hiëna-spyseniere?
Oor die storie van Dawie Strydom, die bobbejane en die duikertjie wat volgens hom deur verskeur is, het ek van Ben Coetzee, gewese Sanparkeman ‘n interessante brief uit Amerika ontvang:
Hy skryf:
“Om Dawie Strydom se oortuiging te versterk, vertel ek van ‘n ‘n Wildtuintoneeltjie wat hom in die laat jare sewentig afgespeel het. ‘n Toeris het sy verfilming daarvan aan ons klomp by Natuurbewing op Skukuza besorg. ‘n Troppie rooibokke en bobbejane het so saam-saam gekuier toe ‘n bobbejaan doodluiters ‘n rooibok wat verbystap naderpluk en aan hom begin vreet, somaar so sonder om hom eers dood te maak. ‘Skuus, ek weet dis ‘n aaklige storie, maar dit sluit aan by wat Dawie gesien het.”
‘n Persoonlike petalje waaroor ek nog die aandrang uit bevriende (?) kringe oorweeg om dit vir ‘n wyer gehoor op skrif te stel, was om verlede Saterdagoggend met die triomftoets in die “House of Pain” vir ‘n goeie tien minute in ‘n toilet met ‘n steeks slot vas te sit. Die frustrasievlak was hoog en my aanmoediging vir die reddingspoging was nie minder entoesiasties as die TV-kykers se toejuiging van die Springbokke nie! Miskien skryf ek tog maar daaroor in ‘n volgende blog. (HvD)