In die “logboek” by Sabiepark se piekniekplek het die “leeu-telkaart” vir Julie jou werklikwaar nog hoër geklim. Op die laaste drie dae van Julie was daar elke oggend leeu-opwinding. Ons kon vir mense sê: kom so 10:15 rivier toe. Diegene wat wel gekom het, was nie teleurgesteld nie.
Uiteindelik is op minstens 11 van die 31 dae leeus waargeneem. Dit sluit twee vangste in (albei rooibokkies), asook ‘n hand vol amper-vangste. Die Van D’s het – soos voorheen gemeld – een vangs met vyf minute misgeloop en die opwinding van drie amper-vangste beleef.
Een keer het ons 11 leeus getel, drie mannetjies, vyf wyfies en drie welpies. Ander kere was daar so sewe tot nege. .
Die laaste amper-vangs van die maand, op 30 Julie, is weer, soos die vorige, deur ‘n oorywerige wyfie verbrou. Sy het begin storm toe die bokkies nog sowat 100 meter van haar af was. Dan is ‘n leeu se kanse nul. Maar siestog, die voortvarende jagter is brandmaer die arme ding. Die hongerpyne knaag seker.
Olifante kom ook uiters gereeld water drink. Die laaste paar dae had ons elke keer die bonus van leeus en so drie tot vyf olifante saam by die piekniekplek. Die drie wat so netjies in gelid staan en water drink uit die Sabierivier, het die laaste leeus van die maand met ‘n kortkop geklop vir insluiting as hierdie blog se illustrasie.
Op 30 Augustus was benewens die leeus en olifante ook van die dek af te sien: koedoes, sebras, blouwildebeeste en impalas. In die lug het drie visarende gesirkel. In ‘n boom het twee optimistiese aasvoëls sit en wag.
By ons boshuis Tarlehoet het ons na jare weer ‘n muskeljaatkatjie gesien. Hy het haastig voor die motor oor ons motorpaadjie geskarrel toe ons Sondagaand van die Nagmaal in Skukuza terugkeer.
Twee bloukuifloeries het in die voelbadjie kom plas en baljaar terwyl hul intense donkerblou en rooi kleure in die namiddagson glim – verruklik.
Die gebande muishondjies het om die duikertjie se pitjies kom meeding. ‘n Duiker-mamma en haar kleinding kom onder die kleed van die donker uit om te wei. ‘n bosbokooitjie het by die voels se bad water gedrink.
Die koedoes het stadig en statig oor die werf gestap toe Vos Grey-hulle by ons was en weer met die besoek van die Wieses en Conradies uit die Kaap. ‘n Troppie van 11 het ons by die piekniekplek vasgenael gehou terwyl hulle kom om te drink…dan nie.. dan weer.
By die TV-kamer het ek mooi foto’s geneem van ‘n sebra wat in die sand rol.
Nie net die groot goed sorg vir GROOT plesier nie! (HvD)
