Die lughawe La Guardia by New York waar die noodlottige botsing tussen ‘n Kanadese straler en ‘n brandweervoertuig plaasgevind het, is so plus-minus New York se Lanseria, halfpad tussen Kennedy en Newark in New Jersey.
Die naam kom van Fiorello La Guardia, New York se 100ste burgemeester tussen 1934 en 1945, daar rond. Sy gunsteling-sêding was: “If I make a mistake it’s a beaut.” Piet Cillie het dit graag aangehaal.
Hoe ironies dat die yslike lugvaart-flater dan nou juis by La Guardia moes plaasvind.
Ekself spog met ‘n gemorsie daar wat as ‘n “beaut” bestempel kan word. Dit is ‘n ou storie en baie ken dit dalk. Maar hier’s dit weer:
.
Dit is van die dag toe ek Amerika as’t ware binnegeval het. Die onvergelyklike Fred Mouton beeld die onwaardige insident uit op die voorblad van my humoristiese reisboek, Oos-Wes-Reismoles (Human & Rousseau, 1998).
Fred se prentjie wys ’n helikopter op die agtergrond. Dis volkome juis. Ons het dié dag in 1976 in New York geland vir ’n Sabbatsjaar in die Verenigde State. Met die yslike helikopter moes ons van JF Kennedy na Newark vlieg vir ’n vlug na Boston.
Toe die affêring land, dag ek hier’s Newark. Ek kommandeer die gesinnetjie met die trappies af, bagasie in die hand, en die helikopter begin woer-woer om weer op te styg. Maar dis nie Newark nie. Tot my ontsteltenis ontdek ek op ’n bord teen die muur ons is op La Guardia. Dis aan die waterkant van Flushing Bay, as dit vir iemand iets
beteken.
Ek vloog om en storm in die algemene rigting van die laaiblad. In die proses kyk ek die ketting op kniehoogte skoon mis – met die allerpynlikste gevolge. Soos ’n vrot vel trek ek; broek stukkend, knie bloei en besittings verstrooi op die teerblad van La Guardia. Die lugwaardin – ’n mooi meisiekind, onthou ek – is vinnig by die trappies af om te kom help. Sy versamel fluks die verstrooide besittings en help die beteuterde passasier op die been.
Alle waardigheid was geruime tyd verlore, veral toe dogter, Marisa, nog klein en onskuldig, juigend uitroep: “Pappa val!”, en gade Tokkie sluk-sluk om haar lag te bedwing.