Op Melkbos se destydse stoep. Ons poseer vir die tydskrif Sarie 25 jaar gelede.

“Van die stoep, oor my grasperk, oor die sand, in die see. En dit ‘n skrale 30 km van die hartjie van Kaapstad. Ek het nooit geweet ‘n doodgewone mens kan soveel plesier hê nie.”

So het ek die tydskrif Sarie geantwoord toe dié vir my vir ‘n artikel in sy uitgawe van 31 Desember 1997 oor Melkbos se bekoring vra. Ons het ‘n rukkie tevore uit Welgemoed na die mooi kusdorp getrek as ‘n “proeflopie” vir my aftrede. Daardie “proeflopie” het ‘n kwarteeu geword. In hierdie dae vier die Van Deventers hul 25 jaar van Melkbos-verbondenheid – verreweg die langste skof in ons lewe

Penguin Place 11 – dis ons plek van melk(bos) en heuning met Tafelberg in sy vele stemming en skakerings aan die suidekant en die atlantiese oseaan wydgestrek voor ons met saans die skilderagtigste sonsondergange. Dan Robbeneiland. Op ‘n helder dag sien ons van ons stoep af motors op die eiland ry. Saans bekoor sy liggies en sy vuurtoring.

Van ons eerste gaste 25 jaar gelede. Van die spannetjie kollegas is meer as 50% al heen.

Baie water het al in die Atlantiese oseaan voor ons geloop. Van die stoep tot in die see is nie meer so ‘n maklike storie nie. In die twee en ‘n half dekades het ek en Tokkie egter al liewer vir ons aftreeplek geraak. Ons is verknog aan die plek, of gek na ons plek, om ‘n uitdrukking by my oud-kollega Herman le Roux te leen.

Wat bied Melkbos ‘n mens nie alles nie? Buiten die goue skemers en die skilderkwas-sonsondergange, ook ‘n salige  kleindorp-rustigheid en ‘n blouvlag-strand waar altyd iets roer, hetsy die gereelde wandelaars, die vlieër-entoesiaste met hul kleurryke tuie, die bedrewe seilplankryers (veral as die suidooster opsteek) en  die vroegoggend-perderuiters (of selfs ‘n ry pelikane wat verby marsjeer).

Haai, sal Tokkie hier wil ingryp: die beste is dat alles so binne bereik is.  Binne vyf minute kan jy by die supermark, die dokter, die kerk of ‘n lekker restaurant wees.  Binne 10 minute is jy by ‘n moderne reuse-winkelsentrum met elke moontlike diens waaraan jy kan droom. Vir die hospitaal ry jy ‘n klein entjie verder.

Ja, dit alles maak Melkbos vir ons die beste plek vir ons herfsjare.  Maar oos, wes, tuis, bes.  Op die keper beskou, bly die allerbeste tog net een ding: jou eie huis en die plek waar hy staan. Dit is wat jou die voorreg gee om 24 uur van die dag van die see bewus te wees.  Om die branders te sien aanrol; om die oseaan te sien, te hoor en te ruik; om soms walvisse baldadig uit die water te sien spring.

Tentfees op die gras voor ons huis sewe jaar gelede.

Op die gras voor die huis is al ‘n markiestent opgeslaan en groot fees gevier: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste  troudag met 100 aansit-gaste en lekker kos uit buurman Dale Schreuder se restaurant. Die VOG-groep  (Volksblad-omgeegroep)  het kom braai vir ‘n jaar-afsluiting: ‘n saamtrek van oud-kollegas soos min. Kuiergaste – tot uit Portland en Seattle – het bladsye vol in die gasteboek geskryf.

Uit hierdie huis is kinders getroud en kleinkinders gedoop. Hier het Ouma Marietjie haar 90ste gevier. Teen ons mure hang gesinsfoto’s wat op die stoeptrappies geneem is met klein kinders wat al hoe meer en oupa en ouma wat al hoe ouer word.  Kleinkinders wat eers as babas op die sandduine rondgekruip het, het later as jong manne op die gras gholfstokke kom swaai. Die goue herinneringe is talryk.

Ouer word of nie, die lekkerte bly om sommer net hier rond te peuter, te kuier of te lees – of om laatmiddag met ‘n wyntjie op ons bankie teenaan die strand te gaan sit en die skoene uit te skop.  Dit sou ons sonder teenstribbeling vir nog 25 jaar kon doen.

Deel dit: