Wie vanoggend se briewe in By gelees het, kan wel wonder of hierdie joernaalskrywer gekneus voel en of hy iets gaan rep van die venynige oordele oor die Afrikaanse koerante (en daarmee noodwendig hul redakteurs) oor hul beweerde rol as “skoothondjies” of “lakeie” van die Nasionale Party in die 8o’s.

Nee, ek voel nie juis gekneus nie, want ‘n loopbaan in die koerantwese staal jou nogal, selfs vir sulke persoonlike aanslae- geniepsige houe wat sensitiewer siele waarskynlik baie ongelukkig kan maak. Die kwaliteit van my aanvallers blyk boonop daaruit dat net een van die vyf (twee briewe en drie sms’e) sy naam noem. Dis ene Abe du Plessis van Saldanha. Ek respekteer hom daarvoor.

Die Bloemfonteiner (skuilnaam: Verligte Afrikaner) het klaarblyklik ‘n ou byltjie te slyp.

Oor die naamlose sms’e swyg ek liewer. Die etiek daarvan om mense deur gesigloses op valse gronde in sms’e te laat aanval, is te bevraagteken. Waar het ek byvoorbeeld gevra dat geskiedskrywers vir MY ‘n pluimpie moet gee?

Wat my effens moedeloos maak – en dis seker ‘n koddige erkenning vir ‘n lewenslange koerantman – is die hindernisse wat opduik in die pad van vrugbare debatvoering in koerante se briewekolomme.

Ek hoop nie dit was in my tyd ook maar so nie, maar moedswillige (kwaadwillige?) mense lees in jou briewe in wat hulle wil en dan skiet hulle hul eie strooipoppe af op grond van eie persepsies en vooroordele.

Hy’t regtig nie ‘n kans as iemand sy emosies en vooroordele begin uitstort sonder respek vir feite nie.

Ja, ek gaan wel antwoord, maar nie hier nie. Dis nie die aangewese plek nie. Hopelik sal By my die geleentheid gee om Saterdag my saak te stel: dat Giliomee en Mbenga se Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika inderdaad nie reg laat geskied aan die Afrikaanse pers (en die AB) se bydrae in die 80’s en vroeg-90’s tot die totstandkoming van ‘n nuwe Suid-Afrika nie.

Ek dink nogal ek het ‘n soliede argument of twee aan my kant, en ek wil my saak rustig, konkreet en saaklik binne die bestaande ruimtebeperkings probeer stel.

In twee private reaksies wat ek ontvang het, word Kroniek van ‘n Koerantman aangehaal. Dis die rede waarom die omslag van daardie loopbaanboekie van my wat reeds tien jaar gelede – in 1998 – verskyn het, hierbo pryk.

Een van die vriende meld dat hy weens die “vaagheid” van Nuwe geskiedenis se relaas oor die nuwe bedeling weer Kroniek geraadpleeg het en dat dit vir hom ‘n “herontdekking van die feite” was.

Die tweede het my verras met aanhalings uit die boek.

Dankie, julle twee, dat julle Kroniek nie vergeet het nie. Die jammerte is ongelukkig dat baie mense hulle nie deur die feite van ‘n saak wil laat verwar nie! (HvD)

Deel dit: