So ‘n saamtrek van oud-kollegas soos hier Woensdag op Melkbos was, laat elke begenadigde wat dit kon bywoon met hope gewaarwordinge en sommer ‘n wavrag nuwe herinneringe.
‘n Veertigstuks gewaardeerde kollegas oor ‘n era van langer as 60 jaar het by ‘n skaapbraai hul liefde en lojaliteit jeens Die Volksblad uitgeleef in ‘n samesyn wat hul gemeenskaplike gebondenheid selfs nog sterker gesmee het.
Met die oudste oud-kollega teenwoordig, Herman le Roux, loop my paadjie van einde 1958 af toe ek my as beurshouer vir vakansiewerk in Bloemfontein aangemeld het.
Ek en Willie Kuhn was in 1965 en 1966 woonstelmaats, eers in La Gratitude, toe in Giel Conradiehof. Hy was die kosmaker. (Ek en Willie is op ‘n foto saam met Andre Brink.)
Ander veterane uit daardie tyd is Johan van Wyk, Wilhelm Jordaan en Pierre van Manen. Om saam vir ‘n foto van ons ses oudstryders reg te staan, was vir my een van die kosbare oomblikke van die okkasie.
Nog ‘n intense persoonlike oomblik was ‘n intieme eenkant-geselsie op ‘n bankie onder ‘n melkhoutboom met Johan van Wyk, geliefde skrywer van miljoene woorde in sy ikoniese rubriek, Stop van Myne. Hoe ‘n lang pad kom ons twee nie saam nie!
Om weer skouers te kon skuur met sulke beroemde skrywerskollegas soos Deon Meyer en Rudie van Rensburg het gesorg vir ‘n foto van groot waarde vir my argiewe. So trots dat hulle (en Chris Karsten) in my redaksie hul uitsonderlike loopbane begin het.
Natuurlik is ek ook trots op Henriette Loubser wat van groentjie-verslaggewer in my tyd tot huidige grootbaas by Netwerk24 gevorder het. In ‘n besige program het sy tyd vir ons ou klomp ingeruim en om geduldig die vrae van ‘n so ‘n verknogte aan papier en ink soos die uwe te beantwoord.
Om deur die jonger generasie van die VOG-groep (Volksblad-omgeegroep) met die GOG-beker (Grootste Opbouer van Gees vir die geleentheid) bekroon te word, was ‘n eer, ondanks die speelsheid daarvan en dalk ‘n stukkie tong in die kies.
Philip van Rensburg, kommandant van die fees, het die “beker” (kyk mooi) aan my oorhandig. Die plant wat hy vashou, is die VOG-groep se geskenk aan gasvrou Tokkie. Dit kry ‘n ereplek in haar binnetuin. ‘n klein heiligdompie met kabbelende fontein en al.
Aan die einde – wel, naby die einde – kon ek en Tom Ferreira ‘n Jagmeestertjie saam gebruik. Smaak altyd vorentoe, veral saam met ‘n opgeruimde kollega so vol kwinkslae soos Tom.
Herman le Roux het die foto geneem van die Van Deventer-spannetjie, pa, ma en dogter, Marisa Classsens. Sy het van Welgemoed oorgekom soos ‘n engel uit die bloute om met dit en dat te kom help.
En daarmee is die ou se spreekbeurt verby (verligte applous).
Deel dit: