‘n Ouma Doer Onder was wild toe drie skurke haar mooi kleindogter verkrag. Sy het haar geweer gegryp, spoorgesny totdat sy hulle vasgekeer het en hulle toe aan flarde geskiet.
Haar visier was gerig presies op daardie kol van die anatomie waar die instrumente waarmee die verradderlike daad gepleeg is, aan die manlike lyf geheg is.
Niks was oor nie.
Haar storie het ‘n ruk gelede op die internet die ronde gedoen. Die verspreider van die e-pos se versugting was: Ons het sulke oumas nodig in SA!
Vandag lees ek in Jackie Grobler se insiggewende boekie oor die evolusie van die Afrikaners, Uitdaging en antwoord, ‘n storie raak wat hom by die kwaai Aussie-ouma se wraak aansluit.
‘n Slaaf, Antony van Mosambiek, het in 1713 sy eienaar, Pieter Joubert, se 14-jarige dogter verkrag.
Hy is wreedaardig tereggestel. Sy liggaam is op vier plekke met ‘n gloeiende tang geknyp, geledebraak (op ‘n wiel verskeur, volgens die woordeboek) en onthoof. Sy kop is op ‘n paal geplaas op die toneel van die misdaad – kennelik om ander slawe af te skrik.
Menseregtekommissie, waar was julle! (HvD)