Modderbad 1958. Ek is die ene met die snorretjie.

Toe ek in Januarie 1958 uit Potchefstroom by Kollegetehuis op die Tukkiekampus opdaag, het ‘n paar ontnugterings gewag.  Net ‘n paar: Die klapperhaarmatrassies was maar dun, aan warm water was ‘n gedurige tekort, die kos was middelmatig en die seniors was ongetwyfeld die kwaaiste op die kampus.

Ontgroening was nog springlewendig. Eerstejaars (ienks) is oral behoorlik gedril. Daar was modderbaddens, die pil (deurdrenk met bitter duiwelsdrek), nagligte (as jy waag om oor die tou te trap), gatpaarties, p-paarties en wat nog.

Ons spannetjie van 1958 moes tot vervelens voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.

Ja, ’n ienk kon maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir veeleisende seniors (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!), Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing.

Die ontheffing was in Oktober as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom. Die tyd het dan aangebreek vir die modderbad en die pil. Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K (vir Kollege) finaal gewaai – een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-aster-man-aster langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”

‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton.  Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.

Daardie liefde vir ‘n plek van baksteen en beton is in 1960 met die Groot Trek van  die kampus af Proefplaas toe wonderbaarlik na die nuwe tehuis oorgedra, natuurlik danksy die saambring van Kollege-rituele, -tradisies en –gees wat in  die eerste amper vyf dekades deeglik ingewortel het.

Die jaarlikse ienksport was daardie jare ‘n vername okkasie. Sommer dadelik, in 1960 al, het die nuwe Kollege in sy groter formaat sy stem dik gemaak en loshande die beker gewen.  My val die eer te beurt om in die finale wedlooop van die dag, die HK-aflos,  die lint te breek. In 1961 word aan elke koshuis ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Ons verskyn op die baan in  enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is – en ons wen ver. Met ‘n wapperende bloemer breek ek weer die lint – die tweede jaar in ‘n ry.

Rugby was in Kollege ‘n saak na aan die gemeenskaplike hart. Groot wedstryde is gespeel, en dikwels gewen, want latere provinsiale spelers soos Nic Bojé, Proppie Goosen, Jan Tromp, Henry van Vuuren, Dries Pretorius en Koos Claassens was derduiwels. In huiswedstryde was ons haas onstuitbaar.

Kollege was van sy ontstaan op elke gebied ‘n sterk faktor. Die uitbreiding van getalle het ons egter die spierkrag gegee om van sport tot op sosiale gebied nog  sterker op die voorgrond te tree en ons te vestig as die gedugste manskoshuis aan elke front, buiten dalk die akademie. Goue jare het aangebreek.   Selfs ‘n borsbeeld van die eerste staatspresident, CR Swart, het ons weens ons politieke ywer verower.  Wonder wat daarvan geword het.

Vriendskappe wat in Kollege gesmee is, duur tot vandag. Kollegemanne van destyds doen moeite om by mekaar te kuier. ‘n Groepie van ses – later agt – het jare lank in die winter genoeglike klein reünies in die Krugerwildtuin gehou. Ons het Kollege se eeufees in die kampie Balule gevier. Die diere het in ontsag stil geword as ons die Kollegelied aanhef.

Ons eerste huisvoorsitter van die nuwe Kollege was Heystek van Rooyen van Roedtan.  Toe volg Vossie Grey Van Ermelo.  Albei is reeds oorlede.  In 1962 het die voorreg my, die oudste lewende bekleder van daardie pos,  te beurt geval. Op die huisvoorsitterskap, asook op Kollegetehuis self, is ek tot vandag innig trots.   Aan Kollege bly ek lojaal. Vir Kollege is ek steeds intens lief, al heet hy nou College House. .

Ek salueer Kollege / College op sy 110de verjaardag.

Deel dit: