Strande van Carmen del Puerto
More uit Melkbos
Sing my ‘n lied van ou Spanje – van sonlig, liefde en wyn. Moenie sy vulkaniese eilande vergeet nie. Op die Kanariese Eiland eiland Lanzarote herinner die ruwe swart lawarotse plek-plek aan ‘n maanlandskap – vreemd maar bekoorlik.
Lanzarote, net 100 kilometers van die kus van Afrika, is bekend om sy vulkaniese oorsprong en nalatenskap, sy strande, kraters, kastele, kaktustuine en endemiese albinokrappies wat al eeue in rotspoele oorleef. Die plek vol verrassings word wyd as een van die mooiste van die romantiese eilandgroep gereken.
Meer as 1 000 000 besoekers kom soek elke jaar op Lanzarote “sonlig en liefde en wyn”. Die meeste stroom na die plesierige vakansie-oordjie Puerto del Carmen. Toe die MSC Opera op Woensdag 8 April in die hawe van die hoofstad Arrecife vasmeer, was Carmen ook , bo-aan my en Tokkie se lysie. Hoe dan anders? Carmen – jy hoor mos in die naam al die klank van die kastanjette en smeulende Latynse sensualiteit.
Die Avenida de las Playas, Carmen se hoofstraat, kronkel sewe kilometer verby een aanloklike strand op die ander. Hope restaurants, tavernes, boetieks en allerlei klein winkeltjies staan styf langs mekaar aan die oorkant. Elegante woonstelle, villas en hotels steek agter die toeristetrekpleisters uit.
Die toneel is tipies mediterreens. Blou lug, blou see, kalm soos ‘n dam, honderde blou dekstoele uitgepak op die wit sand. Baaiers wat in die son bak. Wat dit anders maak, is die oorheersende swart lawarots, wat skerp afsteek teen die seesand en wit skuim van die brekende klein branders.
Van die strande (waar bostukloosheid in die mode is) sien ‘n mens in die verte die gryse vulkaniese berge van Papagayo en op ‘n helder dag ook die volgende eiland in die ketting, Fuerteventura. Het my aandag nie deur die heersende strandkultuur laat aflei nie en die Canon liefs op die Papagayos gefokus gehou!
Mure van lawaklip
Die lawarots kom nie net voor in natuurlike formasies van alle groottes nie; ook in die vorm van boumateriaal. Lyk of alle mure met gekapte lawarots gemessel is. Plaveiselstene kom uit dieselfde bron. Selfs die skoorstene teen die wit villas van Carmen is nie baksteen of leiklip (oorspronklik of nagemaak) soos hier te lande nie. Dis pikswart lawarots wat treffend met die witgekalkte mure kontrasteer.
Amper so vreemd soos die “maantonele” op en langs die strand is die kaktustuine oral. ‘n Vlugtige besoeker kan verskoon word vir die eerste indruk dat net kaktusse en palmbome in die grys as groei. Die waarheid, soos ons later op ‘n lang busrit met ‘n ander roete terug na Arrecife self gesien het, is dat heelwat wingerd die voorkoms van die eiland se bodem ophelder. Plek-plek tussen die lawa en versteende as is ook groen spatsels vrugteboorde en groentetuine.
Kaktustuine
Suid-Afrikaners voel sommer dadelik tuis op die promenade van Carmen. Bly saans van die strande af, word besoekers gewaarsku. As die son sak, sak bendes Spaanse sakerollers glo op niksvermoedende toeriste toe. Klink bekend.
Die meeste eilandbewoners is egter joviaal en hulpvaardig, al lol die kommunikasie. Toe ons ‘n bus wil bestyg met nie die voorgeskrewe kleingeld nie, het ek vinnig by ‘n kroegie ingestorm om my papier-euros in munte om te skakel. Die busbestuurder het jou werklik geduldig vir die verbourereede ou gryskop gewag!
Afrikakroeg.
(Een van die kuierplekke langs die Avenida de las Playas herinner ook aan die verre Suid-Afrika met sy naam, Africa bar/restaurant, ‘n skets van ‘n befoeterde maanhaar se kop met trekke van ‘n Egiptiese kryger op sy uithangbord en ‘n yslike houtbeeld van ‘n kameelperd op sy eersteverdieping-stoep. Later was ek spyt dat ek nie vir Tokkie by “Africa” gaan afneem het nie. Sy was die dag “ïnheems” geklee in ‘n blou “Afrique”-bloese met nie net een nie maar twee langnekke op die bors. Drie kameelperde op een oggend saam op Lanzerote. Reken net!) (hvd)






