Dit is die klein botteltjies wat die groot gif het. Soos ek hierdie woorde verstaan, beteken dit dat mense wat klein van persoon is dikwels oor die grootste dryfkrag beskik. Klein maar getryn!

Om die spreekwoord in aksie te sien, mik maar net De Doorns toe. Tussen die spogwyne in die De Doorns-Wynhuis kry jy Melanie Viljoen. Sy’s so ‘n botteltjie vol plofkrag – die ene oorborrelende entoesiasme, lewensvreugde en positiewe energie.

Soos sy De Doorns se wyne en die Hexriviervallei bemark, wil gedoen wees. Haar idees raak nooit op nie. Sy sit – soos hulle sê – die plek behoorlik op die “map”. Op die oomblik is sy juis aan die woel aan ‘n bemarkingsplan vir die streek se wyne in die Vrystaat, Noord-Wes, Gauteng en Mpumalanga.

Haar plan behels wynvoorleggings waar kunstenaars sal optree – iets op die trant van die kosskrywer Dine van Zyl en Randall Wicomb se vertoning wat groot akkolades by die Woordfees op Stellenbosch uitgelok het. Dine het lirieke geskryf oor haar koskokery. Toe het Randall daarmee gaan liedjies maak. Nou wil Melanie De Doorns se wyne bytrek.

Hoe Melanie gekom het waar sy is, is ‘n storie van geloof en volharding wat werklik besielend is.

Sy vertel dat sy by die eerste onderhoud eerlik erken het: “As dit kom by wyn weet ek niks! Omdat ek op medikasie is vir epilepsie, drink ek dit byna nooit. As ek wel iets geniet, is dit ‘n klein glasie OBS in die winter of brandewyn en coke in die somer.” Tot vandag toe is sy nie seker of saam met haar of vir haar gelag is nie!

Twee weke later moes sy vir ‘n onderhoud met direksielede gaan. Sy was opgewonde en gespanne en het vroegoggend auras (“black-outs”) begin kry. Sy het heeltyd, op pad na De Doorns gebid. Die asemrowende uitsig oor die Theewaterskloofdam en haar laaste twee weke in die hospitaal is al wat sy kon onthou….

Sy was na die ongeluk bitter lank uit aksie. Tog is sy ingelig dat De Doorns vir haar wag. “Ons soek jou nie op krukke nie. Jy moet kan bokse dra,” was die speelse voorwaarde.

Toe lees sy in die tydskrif Insig van ‘n operasie wat mense van epilepsie kan genees. ‘n Mediese fonds is iets wat sy nie gehad het nie en nie kon bekostig nie, maar deure gaan oop vir diegene wat glo. Discovery Health kom in daardie stadium met ‘n spesiale aanbod, en sy gryp die geleentheid.

In Junie 2005 meld sy haar by die Medi-Clinic Constantiaberg in die Kaap aan, en hoor toe eers hoe groot die risiko werklik is dat iets kan skeefloop. Sy het huil-huil aan die slaap geraak. Die volgende oggend het sy egter kalm wakker geword. By die teater het sy haar ma geterg: “Mamma, daar’s fout.” Benoud het haar ma haar hande vasgegryp en gevra: “Wat is dit my kind?” Amper sorgeloos kon Melanie antwoord: “Ek is nie meer bang nie!”

“Ag, my liefie. Daar het so baie mense gisteraand vir jou gebid. Miskien het die Heilige Gees jou met ‘n bietjie hemelse narkose bygekom!” Die verpleegpersoneel het lekker saamgelag.

Melanie was Dinsdag 28 Junie 2005 in die teater, het die eerste nag in die waakeenheid verwyl en is die volgende dag al terug na haar knus, sonnige kamertjie. Na net vier dae is sy huis toe. Na ‘n maand het sy volstoom begin werk. Van die risiko’s het niks gekom nie.

Sy is diep dankbaar, getuig Melanie. Sy wonder net soms of die De Doorns-Kelder nie dalk al spyt is dat hulle haar aangestel het nie. Want: “Ek het ‘n passie vir my werk, doen alles voluit. My oorentoesiasme kan hul dalk soms versmoor… “

Melanie, op jou klink hierdie oom graag vanaand ‘n glasie van een van De Doorns se keurprodukte! (HvD)

Deel dit: