As jy met die skuifelstappie van ‘n onfikse 80-plusser loop, is verkenning van die Queen Mary 2 se dekke nie kinderspeletjies nie. Wat tien jaar gelede tjoef-tjaf kafgedraf is, vereis nou gereelde verposings.Gelukkig is veral op die Promenadedek, dek 7, vir die doel honderde net-reg-houtstoele in simmetriese rye met deftige donkerblou kussings waarop die embleem van Cunard-redery met goue draad geborduur is.
Van die boeg tot die agterstewe is die Queen se lengte 365 meter – so lank soos 41 Londense dubbeldekker-busse snoet aan snoet geparkeer. Die Eiffeltoring in Parys is 45 meter korter. Jy moet jou bene rek.Ander syfers: Die vloere is 16 kilometer (10 myl) onder mat, die afstand van Melkbos tot in die hartjie van Bloubergstrand. In die binnegoed is 2 500 kilometer se elektriese kabel. Dis drie dae se stywe ritte per motor.
Meneer, mevrou, as jy dus gedink het die QE2, legendariese voorganger, was enorm – hier is vir jou ’n verrassing. Dié makroskip sou die QE2 twee keer volledig kon insluk. Drie van die veelgeroemde Titanic sou in haar pas. Glo dit maar. Dis die reine waarheid.
In los uurtjies het ons die ontsagwekkende skip verken. Dek vir dek waar die fikses streef om nog fikser te word, die swemmers swem, die speleriges speletjies speel en die luies net hul dae omsit.Ons tog van herontdekking het ons nie net saam met ‘n falanks onvermoeide stappers rondom die skip op dek sewe geneem nie, maar ook op en af met ‘n verskeidenheid trappe tot daar waar die energiekes dekspeletjies speel en troeteldiere gehuisves word in ’n spoggerige dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!
Soos tevore was ‘n lekker selfbederfie die sogenaamde “scenic elevator”, ’n glaskas buite die skip wat jou van dek sewe tot by die observasiedek langs die brug op dek 12 bring. Passasiers is welkom, maar kan die komplekse kontroles en die bedrywige korps offisiere net deur ’n glasafskorting waarneem
Ons het dit in 2014 “ons hysbak” genoem. Tien jaar later was dit steeds “ons hysbak”.
Soos knoppie-versotte stout kinders is ons van vroeg tot laat daarin op en af. Dikwels was ons alleen. Min van die ander 2 600 passasiers het skynbaar vergelykbare erg gehad aan die panoramiese uitsigte wat die observasiedek bied.
Op dek elf het ons weer die gesellige buitekroeg die Terrace Pool Bar gaan opsoek waar jolige vertrekpartytjies aangebied word, kompleet met polsende orkesmusiek en kelners wat nie kan voorbly om sjampanje (die regte soort) aan te dra nie.Oral is foto’s geneem, onder meer by die fiere rooi-en-swart skoorsteen met die naam Queen Mary 2 in sterk letters daaronder.
Op die dekke kon mev. TvD na hartelus haar stokperdjie beoefen – om mense dop te hou. Sy het my aandag op allerlei gevestig, onder meer op ‘n gryse dame – krom soos ’n boom wat skeefgegroei het –wat telkens op flinke pas by ons op dek sewe verby is. Hoeveel rondes? het ek gevra. Ses, was haar antwoord. Dit is op die kop twee myl of 3,2 km.
Ek hoop die foto’s is selfverklarend.