As ‘n koerante- en papiermens in hart en niere is dit vir my ‘n genoegdoening om oor wat steeds die waardevolste sleutel tot heeldag-genot op die Queen Mary 2 is, te rapporteer. Reg geraai, dis ‘n papier-“koerantjie”. Hoe anders gaan jy, arme drommel, uit die daaglikse dis van 100 of meer aanbiedings slim kies? Onmoontlik.Die “koerantjie” is die nog keuriger as tevore volkleur-dagprogram, wat saans voor slaaptyd saam met die slaapsjokoladetjie op jou kopkussing kom – ses bladsye (so diep soos ‘n A4 en halfpad so wyd) vol prikkelende spesiale aanbiedinge om vir die volgende dag te oorweeg: die tyd, plek, posisie op die skip en aard volledig aangedui – ook met kleurkodes.
Blou is vir vermaak, geld vir “Cunard insights”, rooi vir iets nuuts leer, bruin vir sosiale byeenkomste, groen vir speletjies en pers vir “iets spesiaal”.
Vermaak behels o.m. konserte, musiekuitvoerings en sterrekykery in die planetarium; “Cunard insights” is ‘n lesingsprogram oor aktuele onderwerpe deur kenners, “iets nuuts” leer sluit in kuns, tale, handwerk en dans; sosiale byeenkomste is vir alleenlopers, kerkgenootskappe en liefhebbers van allerlei stokperdjies (ook LGBTQ’s); “iets spesiaal” is van die “afternoon tea” in die Queens Ballroom elke middag tot nuwe rolprente soos die Oscarwenner “Oppenheimer”.
Die program word ook op ’n spesiale TV-kanaal toegelig, maar hoe onthou ‘n gewone sterfling die duisternis inligting of maak jy nota’s op ‘n skerm?Ons eie daaglikse skedule is voor slaaptyd versigtig uit die “koerantjie” saamgestel. Tussen lang ontbyte, avontuurlike middagetes, die spoggerige “afternoon teas” en gourmet-aandetes deur, is ons dae gewy aan musiek (onder meer flamencokitaar), sterre kyk, boeiende sprekers, son soek, skemerkelkies saam met harp, strykkwartet of klavier, biblioteekbesoeke, aandvermaak op die verhoog en, natuurlik, ’n bietjie niksdoen op ’n dek. Die verloklike net-reg-hout-dekstoele is ’n Cunard-handelsmerk.
Die gesaghebbende en inderdaad insiggewende “insights” spruit uit die dae van die ou Queen Mary. Die tradisie is met welslae eers op die QE2 en toe later ook op die QM2 oorgeplant. By die tiende verjaardag van die QM2 in 2014 het die Cunard-mense, wat lief is vir statistieke, hieroor sommetjies gemaak. Op 419 vaarte van die nuwe Queen is in die dekade amper 8 000 lesings aangebied, het hulle bereken – die ekwivalent van ’n jaar se radio-uitsendings sonder onderbreking!
Op elke vaart is ’n stuk of ses glanspersoonlikhede met ’n sak vol stories oor uiteenlopende onderwerpe. Op die vaart na Mauritius is lesings aangebied oor onder meer verskeie kulture, die wildlewe, Kaaps-Hollandse boukuns op wynlandgoedere, Nelson Mandela en seks. Ja, ‘n geleerde dame het diegene met ambisies in daardie rigting voorgelig oor oudag-tegnieke.
Die bestemming vir elke dag se porsie skemermusiek was saans ’n vername punt vir bespreking. Op grond van wie waar optree, is vir ‘n skemerdrankie om die beurt afgesit na die elegante Chart Room, die deftige Commodoreklub, die jolige Lion’s Pub of waar ook al.
’n Fokuspunt van vermaak is die Royal Court-teater met sy 1094 sitplekke. Sangers, musikante, dansers, towenaars en komediante bied saans twee glanskonserte aan. Nie elke aand se kunstenaars het, in alle eerlikheid, die lang wag hierdie keer vir hierdie tradisionele vroegslaper eweredig die moeite werd gemaak nie. Ek sal ridderlik nie name uitsonder nie.
In die Illuminations-teater se planetarium kan jy in sagte stoele op jou rug na die sterre en planete in die eindelose hemelruim teen die reuse-koepelskerm in die dak of na fiktiewe ruimteskouspele tuur.
In die sonnige Clarendon-galery (die grootste kunsgalery ter see) word gereeld uitstallings gehou. Bywoning is soms dalk meer om die halsbandjie as die hondjie. Die gratis Franse sjampanje (nie vonkelwyn nie, hoor!) het op eerste aande gevloei.
Wat nie op ons program was nie weens oorwegings van eie smake, voorkeure, belangstellings en aktiwiteitsvlakke (soms ook begroting!) was onder meer uitgebreide spa- en salon-besoeke, asook fiksheidsklasse en gesondheidsprogramme oor pof-oë, donker kringe en plooie; gewigsbeheer en meditasie.
Ons het dans- en waterverfklasse vermy, asook veerpyltjie- en ander sportkompetisies, brugtoernooie, triviasessies, blommerangskikking-demonstrasies, kunsseminare, kooroefeninge (vir die skip se eie passasierskoor) of die daaglikse brei- , hekel- en naaldwerkklasse (ja, werklik!), nogal in die Veuve Cliquot-sjampanjekamer. Elke diertjie het tog maar sy eie plesiertjie.
Vir die tyd dat ek in ons kajuit “geïsoleer” was weens ‘n lastige maagvirus het ons die TV-aanbod deeglik leer ken. Onder die sowat 30 kanale is BBC News, Sky News, Sky Sports News en Fox News. Koning Charles se kankerdiagnose het juis in daardie tyd uitvoerige aandag geniet.
Hiermee dan oor uit. Dankie aan elkeen wat die afgelope paar dae met kommentare, hartjies of duimpies in die lug, of dalk brommend (?) saamgereis het. Hoop ek kon die een kernboodskap oordra: Die QM 2 is waarlik weergaloos.