Met hierdie skitterende beeld van die Kerstoneel (hierbo) wat met Michelangelo se kunssinnigheid en Job se geduld uit seesand geskep is, wens Hennie en Tokkie van Deventer almal wat hierdie webjoernaal in die volgende tien dae opsoek, ‘n vreugdevolle Kersfees toe. (Ons is gelukkig nog nie so politiek korrek dat ons julle net “feesgroete” of iets dergeliks toewens nie!)
Jammer, Melkbos is nie die herkoms van die betrokke seesand of strandkunstenaar nie. Ek het die foto al ‘n jaar gelede op Yahoo raakgeloop en gebere. Dit vorm vanjaar ook deel van ons gedrukte Kerskaartjie. Maar die onderskrif het ek ongelukkig verlore laat raak. Oor die wie-en-wat’s sal julle dus maar moet raai.
Vir diegene met klein kindertjies (en vir oupas en oumas!) wou ek graag hier ‘n vrolikheidjie invoeg. Dis ‘n buitengewone digitale Kerskaartjie wat ‘n oud-kollega, Toekie Oberholzer (nee Conradie), een keer uit Australie aangestuur het. Die tweeling is mal daaroor – ek moet dit oor en oor vir hulle oopmaak. Eers was twee keer op ‘n slag genoeg; nou dring hulle drie vingertjies in die lug aan op ‘n toegif!
Hoekom weet ek nie, maar die ikoon waarop ‘n mens moet dubbelkliek om die “kaart” oop te maak, het eenvoudig verseg om hom hierheen te laat verskuif. Al wat ek kan aanbeveel, is dat mense wat lus het, vir my ‘n e-possie stuur na hvandeventer@mweb.co.za . Dan stuur ek die kaartjie onverwyld.
Nog ‘n vrolikheidjie is die takbok-konsert op die volgende webwerf:
http://joecarr.ca/xmas/graphics/icqxmas.swf
Hoop dit maak oop en julle geniet dit.
Mag julle almal hierdie Kerstyd groot vrede in die hart ervaar – en onthou tog twee dinge, mooi asseblief:
(i) Daar is regtig nie iets soos ‘n Kersgety nie. Dit kom van die Engelse Christmas tide. Die see het getye. Ons praat ook van jaargetye. Maar Kersgety? Aikona. Praat liewer van Kerstyd. Dis kort en kernagtig en mooi Afrikaans.
(ii) Die aand van 24 Desember is regtig Kersaand, nie Oukersaand nie. Die Oukersaand-storie kom van Oujaarsaand. af. Christus is tog Kersnag gebore, nie Oukersnag nie. En die aand van 25 Desember is Kersfeesaand – dus geen gevaar van verwarring nie. (HvD)
