
Die tweeling Thomas (links) en Jacob (regs) op hul 21ste saam met oupa en ouma.
Liewe familie en vriende
Ons kyk terug op 2025 met dankbaarheid vir gesondheid, lewensvreugde, ‘n salige bosbesoek en genotvolle ure op “Hennie en Tokkie se bankie” (sy nuwe plaatjie) langs die see, wyntjie in die hand, Tafelberg aan ons linkerkant, Robbeneiland skuins links en die Atlantiese oseaan 180 grade voor ons uitgestrek.
Wat staan uit van 2025? Ironies genoeg is een van die spitse ‘n nie-gebeurtenis: Ons besluit om ‘n droomvaart op die nuwe Queen Anne van Cunard te kanselleer. Ons sou na Singapoer vlieg en dan op die pragskip via Koela-Loempoer, Mauritius, Reunion en Durban huis toe vaar.
Op die nippertjie trek ons toe kleinkoppie. Hennie besluit die vlug is te lank vir sy oumenslyf en die risiko’s te groot. Hy soek nie om in een van die “poere” in ‘n hospitaal te beland nie. Die wegstappery kos ons uiteindelik ‘n trop geld (om Ouma Malan aan te haal), maar nou-ja. Nou weet ons in elk geval wat ons nuwe reislimiete is. Sic gloria transit mundi. (‘n Rolstoel op die lughawe is in ieder geval voortaan Hennie se voorland.)

Ouma en Migael (19) eet verjaardagkoek en oupa maak kennis met die LANDRANI’s op Ons Plasie.
Hennie se ALLERLAASTE boek, sy 24ste, Wag-‘n-bietjie, is deur Naledi gepubliseer. Tien gaan oor die koerantwêreld. Prof. Johannes Froneman noem hom waarderend ‘n “kompulsiewe joernalis” wat veral van 2017 af met koerantboeke die “sluise oopgetrek” het en niks oor die koerante-era onopgeteken wil laat bly nie. Dié persoonlike baken het egter bra stilletjies verbygegaan. Self het ons tog wel plesier aan die boek met sy treffende buiteblad.
Hennie se geliefde Tukkiekoshuis, Kollege, het sy 110de bestaansjaar gevier. As oudste lewende huisvoorsitter (1962) is hy gevra om ‘n boodskap te lewer. Dit is in Sabiepark met die selfoon opgeneem – ‘n persoonlike eerste op die gebied van die tegnologie.
In Julie het ons op kosbare ou Wildtuinspore geloop: Balule, Olifants, Shingwedzi. Ons sal seker nie weer daar kom nie, maar het vrede in die hart.
‘n Gewigtige besluit wat ook ‘n element van bevryding inhou, was om die eie bagasie ligter te maak en die familie-domino’s ietwat rond te skuif. Een van die verskuiwings behels dat Sabiepark – met versterkte sonkragstelsel – volledig oorgaan na die gesin Claassens. Die nuwe bedeling met Marisa aan die stuur tree op 1 Januarie in werking. (Hennie en Tokkie bly gelukkig darem “eregaste”.)
In Oktober het ons op Oudtshoorn gaan kuier. Op pad daarheen het ‘n agterband van die BMW gebars – nog ‘n persoonlike eerste. Gelukkig kon Johan dinge met die inslepery ensovoorts vasvat. Darem net bandskade, mistroostigheid en koste.
Johan, Mariza en Migael se Ons Plasie aan Raubenheimerstraat het gewoeker. ’n Nuwe blok wingerd is aangeplant, die olyf- en granaatbome groei mooi en die groentetuin het hulle deur die jaar ruim voorsien. ‘n Groentetonnel is ‘n aanwins in die intense somerhitte. Migael se skuif van merinoskape na LANDRANI Meatmaster beskou die Van Deventers as ‘n blink besluit.
Johan is goedgekeur om – naas sy boerdery saam met Migael – vir nóg vyf jaar Hestony se vragmotors te was. (Hy was steeds ook Grain se vloot.)
By die Legacy Centre op George is ’n pragtige nuwe terapiekamer ingerig met die geld wat ingesamel is tydens Louis Massyn se gedenkwaardige 50ste Comrades-marathon ten bate van die inrigting. Die agstste “Big Walk” by BINAH was weer ’n heerlike gemeenskapsgeleentheid in die Tuinroete, alles ten bate van mense met gestremdhede.
In die Welgemoed-huis van die gesin Claassens was dit ‘n vol jaar met yslike programme – tog darem ook ruim kans vir die gesin se voorliefdes en verpligtinge.

Christopher op sy bergfiets.
Thomas moet volgende jaar sy studie met sy leierskap balanseer in sy nuwe rol as primarius van die Matiekoshuis Eendrag. Jacob, ‘n ontluikende langasem met ‘n onblusbare lus vir half-marathons, hoop om sy B.Com en CFA-kursus te voltooi. Christopher ry die land plat met sy bergfiets, kilometer vir kilometer, met ‘n passie. Die tweeling het hul 21ste feestelik gevier tussen berge en wingerde. Christopher gaan al graad 11 toe. Tyd stap aan.
Brent werk nog hard en geniet die bedryf waarin hy is. Hy is Christopher se getrouste ondersteuner in al sy fietsry-avonture. Marisa hou almal op koers met haar organisasietalent.
Uit Penguin Place 11 ons innige Kerswense vir een en almal. Geeneen word jonger nie, soos talryke sterftes onder kollegas en vriende die jaar opnuut onderstreep het. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.
Ons betree ‘n nuwe jaar wat Hennie se 85ste, Tokkie se 80ste en ons twee se 60ste troudag – diamantbruilof mos – vir ons inhou. Sjoe, dis ‘n lang pad. Tokkie gedenk op 3 Januarie al drie jaar met haar hartpasaangeër. Dit werk goed vir haar!
Ons nuwejaarswense kom, soos enkele jare tevore, uit Psalm 72 omdat dit so mooi is:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
Hennie & Tokkie