
Liewe vriende
Stilletjies het nog ‘n Desember – Hennie se 81ste, Tokkie se 76ste en ons twee se 55ste saam – op ons afgekom. Hier is die einde van die jaar op ons. Tyd het aangebreek vir die jaarlikse bulletin uit Melkbosstrand.
Ons kyk terug met dankbaarheid vir gesondheid, lewensvreugde, plus-minus ons 50ste salige Sabieparkbesoek en heerlike ure op ons bankie langs die see, wyntjie in die hand. In verskeie opsigte was 2022 vir ons ons kinders en kleinkinders ’n bakenjaar. Ons is nou ’n gedenkwaardige kwarteeu lank trotse Melkbossers. Hennie is ‘n kwarteeu afgetree. Die tweeling is 18. Hulle maak matriek klaar en spog met rybewyse (en rygoed). Migael is 16. Christopher is klaar met laerskool.
Hennie is ingenome met erkenning deur sy skool, Volkies op Potchefstroom, in dié se eeufeesjaar. ‘n Skaars Alumnitoekenning is aan hom gerig as “’n lojale oud-Volkie wat hom op ‘n buitengewone wyse in die samelewing onderskei het” – 65 jaar ná matriek.
Vir Tokkie ‘n plesiertjie was dat haar granaatrooi Mercedes – nou 14 jaar oud maar met die aanskyn van ‘n splinternuwe – op die nippertjie by die matriekafskeid moes gaan red nadat twee ander veterane onklaar geraak het. Die rooi impakspeler het geskitter – so dink sy eienares (foto).
‘n Groot lewensskuif vir Johan, Mariza en Migael het begin met die koop van ‘n ruim, mooi huis aan die Wesoewer op Oudsthoorn (foto heelbo) as tuiste vir volwasse outiste. So begin ‘n nuwe hoofstuk in hul lewe met Migael. Die plan is dat die Legacy Centre vir kinders op George moet voortleef en dat Johan sy ekonomiese aktiwiteite daar uit Oudtshoorn voorsit. Die tradisionele Groot Stap in George se Botaniese Tuin ten bate van die Legacy Centre was vanjaar weer ‘n besonderse okkasie.
In die huis van Marisa van Brent was dit ‘n vol jaar met yslike programme – tog darem ook ruim kans vir die gesin se voorliefde vir kamp.
Die tweeling, Thomas en Jacob, groet Stellenberg met hande vol bekers, pryse, eerbewyse en balkies. Albei het erekleure gekry. Thomas was o.m. die tweede jaar agtereenvolgens die wenner van die Rekeningkunde-Olimpiade van die Universiteit van Johannesburg. Jacob het, soos vyf jaar gelede in graad 7, die skoolhoof se spesiale pryse vir voortreflike diens aan die skool verower (foto).
Christopher wat in Oktober Nederland besoek het, groet Welgemoed Laer o.m. met die gesogte titel ”Mnr. Blessie” (foto onder), as eerstespan-rugbyspeler en as rasieleier.
Wat die nuwe jaar vir ons inhou? Wel, ek en Tokkie vier nog ‘n kwarteeu-baken. Sabiepark is op 15 Maart 2023 ‘n volle 25 jaar in ons besit. Ons vaar in Januarie saam met Johan en Mariza op die MSC Sinfonia Walvisbaai toe voordat hulle na Oudtshoorn trek. Die tweeling word Maties. Thomas gaan na Eendrag en Jacob na Helshoogte. Christopher begin sy hoërskoollewe by Stellenberg.
Dalk – net dalk – kom uit Hennie se pen ‘n laaste boek, weer met ‘n koerantetema.
Uit Penguin Place 11 ons beste Kerswense vir een en almal. Nie een van ons word jonger nie, soos verskeie sterftes onder kollegas en vriende in die ou jaar opnuut onderstreep het. Kom ons leef elke dag voluit, koester vriendskap, ondersteun mekaar en geniet mekaar se geselskap solank dit moontlik is.
Ons Nuwejaarswense kom uit Psalm 72:
Mag daar volop graan in die land wees,
mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif,
mag die oes so welig wees soos die Libanon,
die graan so geil opskiet soos gras in die veld.
Hennie & Tokkie