By Melkbos se NG kerk word gewoel om die toring te herbou en die ou asbesdak te vervang nadat ‘n stuk van die toring afgebreek en deur die kerk se dak na benede gestort het.  Enkele Sondae moes die erediens in die saal plaasvind. ‘n Bedrag van R2 miljoen is ter sprake.

‘n Vorige gemeente, Potchefstroom se Moedergemeente, was drie jaar sonder sy kerk nadat ‘n brand die geskiedkundige gebou in 2007 so te sê in puin gelê. Restourasiewerk het meer as drie jaar geduur. Restourasiekoste was meer as R7 miljoen.

In die gemeente het ek op 27 April 1957, drie maande na my sestiende verjaardag, belydenis van geloof afgelê by die befaamde ds. Beyers Naudé, by ons bekend as Oom Bey. Die medeleraar was ds. Nico Smith, die latere prof. Nico Smith. Die twee sou in later jare op die voorpunt van die stryd wees vir groter geregtigheid vir Suid-Afrika se geknelde swart bevolking. (Die jaar 1957 was ‘n bedrywige een in my lewe: eers deur “boerematriek” en later deur die ware Jakob.)

My eerste jare op Volkies was ds. GD Worst, die leraar.  Van ds. Worst word die storie vertel, dalk apokrief, dat hy hom by geleentheid in ‘n ongemaklike situasie bekend gestel het as “Worst van Potchefstroom”. Die weerwoord was glo iets soos: “Ek gee nie om of jy Polonie van Benoni is nie!”

Die kerksaal is na ds. Worst genoem. Daar het die Christen-Studentevereniging (CSV), waarvan feitlik al ons kinders van die twee koshuise, Jack Pauw (seuns) en Ons Hoop (meisies), lid was, by geleentheid op Sondagmiddae saamtrekke gehou waar die pragtige CSV-lied weergalm het:  “Komaan, Suid-Afrika’s skaar van studente, maak Jesus koning in woord en in lied….”

Dit was ‘n besonderse gemeente wat Sondae vroeg vol was – mans in donker pakke en vroue met hoed op die kop en sykouse, soos die klerekode daardie tyd was. Natuurlik was die leraars uitgedos in hul deftige donker togas, en die liturgie was in ‘n vaste vorm verpak: votum, lofsang, wet, geloofsbelydenis, Skriflesing, preek, kollekte, slotsang en seën. Vir laasgenoemde het die leraar sy arms dramaties na bo uitgestrek, die enigste keer in die erediens van daardie tyd dat so iets gebeur het.

Soms is buitengewoon treffende preke van ds. Bey of ds. Nico op spesiale versoek herhaal.  Vir sulke geleenthede is stoele uitgepak, ook buite die kerk, en luidsprekers aangebring. Nagmaalnaweke is ook die voorbereidingsdiens die Saterdagaand en die nabetragting  Sondagaand  goed bygewoon.

Nou het ons nie meer, soos op laerskool,  Hallelujas gesing nie, maar Psalms en Gesange uit die ou Psalmboek. Groot persoonlike gunstelinge was Gesang 12: “O goedheid Gods, hier nooit volprese!”, Psalm 146: “”Prys die Heer met blye galme” en Psalm 33: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”.

In al drie was uitdrukkings wat vandag, in die lig van toegankliker berymings van T.T. Cloete en andere, nogal vreemd op die oor val, maar wat destyds deur niemand bevraagteken is nie.  Nee, “snood ondankbaar” het ons gesing sonder ‘n tweede gedagte oor wat “snode” ondankbaarheid  presies  beteken.  Insgelyks het die “blye galme” nie gepla nie en het niemand gevra nie:  wat op aarde beteken daardie “uit aandrif van die skoonste kuns”?

Ons seuns was sonder uitsondering in pakke klere uitgevat. Myne was tot in st. agt ‘n kortbroekpak – iets wat weldra uitgesterf het. In standerd nege het ek ‘n spoggerige ligblou dubbelbors pak gekry en die eerste eie Sondagdas wat nie uit my pa se klerekas kom nie.  Dit was ‘n trotse oomblik toe ek dié.nuwe das spoggerig knoop volgens die swierige styl wat toe in die mode was.  Met daardie pak het ek ook op Sondagmiddag gaan kuier die een keer in ‘n kwartaal dat Ons Hoop se meisies vriende mag ontvang het.

Die meisies moes in gelid kerk toe marsjeer in hul verruklike wit rokkies, soveel mooier as die fyn blommetjiemateriaal (somer) of die swart tuniek (winter) van die skooldrag.

Sondagoggend het ons verspreid in die kerk in klasgroepies gesit en swoeg met die Heidelbergse kategismus en Dordtse leerreëls.  Ons moes hele hoofstukke uit die Bybel uit die kop ken, onder meer Jesaja 55: “ O almal wat dors het, kom na die water … “ en Jakobus 3: “Moenie baie leermeesters wees nie, my broeders….” (albei ou vertaling). Die Bybelboeke moes ons in snelvuur kon opnoem van Genesis tot Openbaring.  Dit het nogal konsentrasie geverg.

Aanddienste was verpligtend vir alle koshuiskinders, ongeag kerkverband. Ons is om die beurt na die moederkerk en die Mooirivierkerk. Vanweë die twis en tweedrag tydens die Rebellie van 1914 en daarna het die gemeente in 1917 afgestig. Die bestaande kerkgebou het toe die naam “Rebellesie”-gebou gekry. Tydens en nog lank ná die Tweede Wêreldoorlog het Mooirivier as die Barrish-kerk of die Sap-kerk bekend gestaan terwyl die moedergemeente die Worst-kerk was. Eersgenoemde het al die Sappe (lede van die Suid-Afrikaanse Party) gehuisves omdat laasgenoemde net Natte (lede van die Nasionale Party) toegelaat het.

Dan en wan het ons ‘n Sondagaand stokkies gedraai en met onwaardige bymotiewe die Apostoliese kerkie in Nieuwestraat besoek. Die handeklappery, ophef van arms en vrolike sang en musiek was vir ons ‘n aardigheid.

Ek onthou ook dat een van my Sondagskoolonderwysers, Daan Alberts, in Johannesburg, ek vermoed in die onvoltooide Eskomgebou, oor die kop geslaan en van ‘n hoogte afgewerp is. Dié moord het vanselfsprekend onder ons vir ‘n groot opskudding gesorg.    Wat het hy daar gaan soek? Ek het nooit agter die kap van daardie byl gekom nie.

 

Deel dit: